On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-drietal bly in aanhouding ná veediefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:21 Sun, 13 Apr 2025

Noordwes-drietal bly in aanhouding ná veediefstal | News Article
Foto ter illustrasie, iStock

Drie Noordwesters bly in aanhouding en sal na verwagting weer Donderdag (17/4) in die hof verskyn op aanklagte van veediefstal.

Goitse Modimo (42), Samuel Sarel (55) en Bohelo Tlhalefo Kai (38) het Vrydag (11/4) in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die besit van vermoedelik gesteelde skape, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

“Die beskuldigdes is Woensdag in hegtenis geneem nadat die polisie omstreeks 04:00 ’n klag van veediefstal in Amalia ontvang het.”

Volgens Myburgh het die polisiesbeamtes tydens patrollie ’n bakkie in verdagte omstandighede met ses insittendes opgemerk en die voertuig voorgekeer. 

Die gesteelde skape is aan hul eienaar terugbesorg. Foto verskaf

“Tydens deursoeking van die Toyota-bakkie het die polisie 14 skape ontdek. Die drietal kon nie vir die vee rekenskap gee nie en is dadelik in hegtenis geneem.”

Nog drie verdagtes het daarin geslaag om van die toneel te vlug en is steeds op vrye voet.

Die polisie het op die bakkie en die vermoedelik gesteelde skape beslag gelê. “Die skape, wat gemerk is, is terugbesorg aan hul regmatige eienaar in Madibogo, wat nog nie besef het hulle word vermis nie,” sê Myburgh.

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) en ander landbouorganisasies werk saam met die polisie en Agri Ops om veediefstal te bekamp deur middel van ’n nasionale aanmeldingstelsel vir veediefstal.

Die gesteelde skape. Foto verskaf

Die Earth Ranger-platform hanteer en verwerk inligting wat verskaf word om te verseker dat alle besonderhede van deelnemende boere vertroulik gehou word in ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, sê dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO.

Hoewel die platform sonder die polisie se medewerking bedryf word, werk die RPO nou saam met die polisie vir die uitvoering daarvan.

Hoe werk die KI-stelsel?

Agt stappe word tydens aanmelding uitgevoer, waarvan die eerste vyf verpligtend is:

  1. Wie: Verskaf jou naam en kontakbesonderhede.
  2. Provinsie: Dui aan in watter provinsie die voorval plaasgevind het.
  3. Distrik: Verstrek die distrik se naam.
  4. Polisie: Meld dit by jou naaste polisiekantoor aan.
  5. Wat: Beskryf die tipe veediefstal en ander belangrike besonderhede.

Die volgende drie stappe is die GPS-ligging waar die voorval plaasgevind het, spesifieke besonderhede oor hoe die diefstal uitgevoer is en enige ander tersaaklike inligting.

Die RPO beklemtoon dat hierdie stelsel nie net help om veediefstal vinniger aan te meld nie, dit skep ook ’n waardevolle databasis vir wetstoepassingsagentskappe. Die doel is om die polisie te ondersteun in hul ondersoeke en om misdaadtendense beter te verstaan.

Boere en inwoners kan enige veediefstal of verwante misdaad onmiddellik per WhatsApp by 071 5152011 aanmeld.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.