On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Groot opwinding heers oor Vredefort se jaarlikse kruistog

───   KAREN VAN DER BERG 09:11 Fri, 11 Apr 2025

Groot opwinding heers oor Vredefort se jaarlikse kruistog | News Article
Vorige jare was ’n groot sukses en hoogtepunt vir Vredefort. Duisende mense neem deel. Foto verskaf

Dit is ’n belewenis om aan ’n staptog van 3 km deur ’n Vrystaatse dorp deel te neem en die wonderlike verlossingswerk van Jesus Christus aan die kruis te vier.

So vertel ds. Juan Greeff, die organiseerder van die Vredefort-kruistog, wat vanjaar vir die vierde keer aangebied word. Greeff is predikant van AGS Dinamika Vredefort, wat die kruistog reël.

Vorige jare was ’n groot sukses en hoogtepunt vir Vredefort. Duisende mense neem deel. Foto verskaf

Inwoners van dié Noord-Vrystaatse dorp werk hard om die dorp skoon en netjies te maak vir dié besonderse, jaarlikse geleentheid. Hulle hoop dit kan weer ’n onvergeetlike ervaring wees om die simboliek van Paasfees te beleef.

Die kruistog is nie ’n geleentheid om geld te maak of enige produk te bemark nie, vertel Greeff. Dis ’n dag waarop mense hul ontmoeting met die kruis, êrens vroeër op die lewenspad, herdenk. Dit word op Goeie Vrydag (18/4) gehou.


Greeff sê een van die wonderlikste aspekte van die kruistog is dat almal in die gemeenskap betrokke is en help. “Soos met die vorige kruistogte vat die gemeenskap en die munisipaliteit hande. Mense bied spontaan hulp aan vir hierdie groot projek, want minstens tussen 4 000 en 5 000 deelnemers word verwag.”

Op die oomblik bou spanne ’n ligtoring, wat by die ingang na die dorp verrys. Dit word uit klippe van plase in die omgewing gebou en dien as herinnering dat Christus die lig van die wêreld is. Dit is belangrik om die werklikheid van Paastyd uit te beeld, sê Greeff.

Duisende mense neem deel. Foto verskaf

Greeff sê almal vergader die oggend om 10:30 op die dorp se sportterrein vir die voorprogram van lofprysing en aanbidding saam met plaaslike kunstenaars. Daarna word ’n kruisformasie gevorm wat deur ’n hommeltuig afgeneem word. Nagmaalbediening vind dan plaas.

Om 12:00 begin die uur lange kruistog. “Daar is ook voertuie beskikbaar vir deelnemers wat nie die roete kan stap nie.” Wanneer die kruistog eindig, word Paasfees verder saam gevier.


“Ons is opgewonde. Alles wat gedoen word, kom uit mense se hart uit. Geen geld word ingesamel nie, en niemand hoef vir iets te betaal nie, behalwe hulle eie kos by kosstalletjies.”

’n Kruisformasie word gevorm, waarna nagmaalbediening plaasvind. Foto verskaf

Hulle is opgewonde oor die gemeenskapsprojek wat harte tot veel verder as slegs die Vrystaat aanraak.

“Ons hoop om wéér vanjaar met die massa-optog van kruisdraers die ware Paasboodskap tot die verste uithoeke van die land uit te dra.”

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.