Central SA
Bloemfontein-infrastruktuur kort dringende ingryping─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:27 Wed, 09 Apr 2025

’n Burgerregteorganisie eis in ’n brief dat Mangaung-metro binne sewe dae dringend optree om te keer dat Bloemfontein se infrastruktuur verder agteruitgaan.
AfriForum eis ook ’n omvattende plan van die Mangaung-metro waarin die tydlyn vir herstelwerk oor verskeie gebiede van Bloemfontein uiteengesit word, asook die maatreëls wat die metro gaan instel om toekomstige agteruitgang te voorkom, sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
“Die paaie en stormwaterafvoerstelsels in Bloemfontein is in ’n haglike toestand weens jare se verwaarlosing en gebrek aan instandhouding. Hierdie situasie is vandeesweek verder vererger deur die swaar reënval in die gebied.
Paaie oorstroom. Foto verskaf
“AfriForum doen nou ’n beroep op die Mangaung Metro om die beskadigde paaie en stormwaterpype dringend aan te spreek voordat die situasie verder buite beheer raak,” sê Groenewald. Benewens die groot skade wat aan voertuie aangerig word, dra die slaggate ook by het tot ongelukke.
“Die gebrek aan instandhouding aan stormwaterpype veroorsaak aansienlike skade aan die stad se infrastruktuur en het selfs gelei tot plaaslike oorstromings, wat paaie in sekere gebiede versper.”
Hy noem dat verskeie voertuie uit die vloedwater gesleep moes word. Mangaung se brandweer moes selfs ’n ambulans wat ’n pasiënt vervoer het, uit die water red.
‘Mangaung-metro kies om niks daaraan te doen nie’
AfriForum911 en die AfriForum-buurtwagte bied ook op verskeie gebiede ondersteuning aan die gemeenskap om openbare veiligheid na die beste van hul vermoë te help verseker.
“Mangaung-metro is deeglik bewus van die probleme en dit blyk dat hy eenvoudig kies om niks daaraan te doen nie. Die gemeenskap ly onder die metro se tekortkominge en moet die skade wat weens hierdie tekortkominge aangerig word uit hul eie sak betaal,” sê Groenewald.
Hy sê die metro moet aanspreeklik gehou word vir die gebrek aan onderhoud aan infrastruktuur. AfriForum sê hy sal verdere stappe doen as die metro nie ingryp nie.
OFM Nuus mvh