Central SA
Gautengse trokdrywer met R50 miljoen tik weer April hof toe─── ZENANDE MPAME 11:58 Fri, 28 Mar 2025

’n Vragmotorbestuurder van Gauteng verskyn Vrydag (4/4) in die Aliwal-Noordse landdroshof vir ’n borgtogaansoek nadat hy in hegtenis geneem is met tik tvan R50 miljoen in sy vragmotor.
Luca Ziervogel (29) het Donderdag vlug voorgekom en bly in aanhouding gehou op aanklagte van dwelmhandel en die besit van ’n groot hoeveelheid kristalmetamfetamien.
Ziervogel is Dinsdag in hegtenis geneem terwyl hy van Smithfield na Aliwal-Noord gery het. Sy vragmotor is afgetrek en na die dorp begelei vir ’n deeglike soektog.
“Hy staan tereg op aanklagte van dwelmhandel en besit van ’n groot hoeveelheid kristalmetamfetamien,” sê Ndiphiwe Mhlakuvana, Oos-Kaapse Valke-woordvoerder. Die polisie het inligting ontvang oor ’n vragmotor uit Johannesburg wat op pad was na Aliwal-Noord met sakke vol dwelms.
Die voertuig is opgemerk en naby die middedorp afgetrek. Beamptes het beslag gelê op ’n vrag van 313,45 kg dwelms met ’n geraamde straatwaarde van R50 miljoen, asook die vragmotor vir verdere ondersoek.
Intussen sal sewe verdagtes (19 tot 37) in die Welkomse landdroshof voorkom op aanklagte van dwelmhandel en -besit.
Ziervogel se trok het 313,45 kg dwelms met ’n geraamde straatwaarde van R50 miljoen. Foto verskaf
Hulle is Donderdag in Welkom en op Viljoenskroon in hegtenis geneem tydens ’n klopjag deur ’n multidissiplinêre span, insluitend Valke-speurders, misdaadintelligensie, die taktiesereaksiespan, honde-eenheid en die plaaslike misdaadrekordsentrum.
“Operasie Duncan is in September 2023 van stapel gestuur na aanleiding van inligting oor buitelanders wat dwelms in Welkom smous,” sê Zweli Mohobeleli, Vrystaatse Valke-woordvoerder. “Net so is Operasie Dlumina in Augustus 2022 begin om georganiseerde dwelmhandelaars op Viljoenskroon te teiken.”
Dwelms soos mandrax, kokaïen en tik is tydens verskeie skyntransaksies teruggevind. Die sewe inhegtenisnemings is die gevolg van die Valke se optredes in Welkom en op Viljoenskroon.