On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Man neem eie lewe in Noordwes-hospitaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:49 Fri, 25 Apr 2025

Man neem eie lewe in Noordwes-hospitaal | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Verpleegvereniging vra Noordwes se gesondheidsdepartement moet dringend professionele traumaberading en sielkundige ondersteuning aan personeel by ’n plaaslike hospitaal bied nadat ’n pasiënt na bewering sy eie lewe geneem het.

Die voorval het Sondag (20/4) in die vroeë oggendure in die Mabeskraal-kliniek in die Moses Kotane-distrik plaasgevind, ongeveer 50 km vanaf Sun City.

Die saak onderstreep ernstige kommer oor personeeltekorte, pasiëntveiligheid en onvoldoende geestesgesondheidsprotokolle in gesondheidsorginstellings in die openbare sektor, sê Mziwakhe Seleke, voorsitter van die Demokratiese Verpleegvereniging van Suid-Afrika (Denosa).

Luidens berigte het ’n man omstreeks 04:00 by die kliniek aangekom en gekla oor intense buikpyn. “’n Verpleegster aan diens het hom begin ondersoek en behandel. Toe die behandeling geen tekens van verbetering toon nie, het die verpleegster voorberei om die pasiënt na Moses Kotane-hospitaal oor te plaas vir meer gevorderde sorg.”

Seleke sê terwyl die verpleegster die vertrek verlaat het om ’n verwysingsbrief vir die hospitaal te kry, het die pasiënt verdwyn. “Sekuriteitspersoneel is gewaarsku, en kort daarna is die man dood op die kliniekperseel aangetref. Hy het homself met ’n belt op die perseel naby die ambulans se parkeerplek opgehang.”

Ander personeel was besig met ’n kraamsaak

Seleke het verduidelik dat die kliniek ten tyde van die voorval met ’n baie beperkte span bedryf is – slegs twee verpleegsters, een assistent en ’n enkele sekuriteitswag. Die ander personeel was besig met ’n kraamsaak in ’n ander departement.

Tebogo Lekgethwane, provinsiale gesondheidswoordvoerder, het bevestig dat Sello Lehari, die LUR vir gesondheid, die kliniek kort ná die voorval besoek het.

Hy is deur senior amptenare van die provinsiale en distrikskantoor vergesel om ’n voorlopige verslag te ontvang en die situasie te beoordeel. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die oorledene ’n Malawiese burger was.

Kapt. Mpho Manyoba, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan OFM Nuus bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek geopen is.

Emosionele impak op gesondheidswerkers

Denosa het sy meegevoel met die man se familie betuig en eis onmiddellike sielkundige ondersteuning aan die betrokke personeel. “Dit het ’n diep emosionele impak op die gesondheidswerkers gehad wat bloot hul bes gedoen het onder moeilike omstandighede,” sê Seleke.

Hy beklemtoon dat hierdie tragedie die dringende behoefte aan verbeterde veiligheidsmaatreëls, veral tydens nagskofte, en vir meer robuuste geestesgesondheidsondersoeke in primêre sorgomgewings onderstreep. “Daar is ’n groeiende geestesgesondheidskrisis in ons gemeenskappe, en klinieke aan die front moet toegerus wees om effektief te reageer – selfs ná ure.”

Denosa vra dat die departement meer nagskofpersoneel aanstel, werksomstandighede verbeter en toegang tot trauma-ondersteuning vir alle openbare gesondheidswerkers verseker.

Gesondheidswerkers is onder geweldige druk

Die organisasie het voortgesette voorspraak vir hervormings belowe wat pasiënte sowel as personeel beskerm.

Volgens Lekgethwane het LUR Lehari met alle personeel wat by die voorval betrokke was, vergader, insluitend die operasionele en distrikbestuurders. Planne is ook in plek om die familie van die oorledene in die komende dae te besoek.

“Hierdie tragiese gebeurtenis moet ’n keerpunt wees,” het Seleke gesê. “Gesondheidswerkers is onder geweldige druk met beperkte ondersteuning. Ons benodig blywende oplossings, nie net reaktiewe maatreëls ná ’n verlies soos hierdie nie.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.