Central SA
Langste kebab en grootste pot mieliepap wag op Vaal-feesgangers─── KAREN VAN DER BERG 10:41 Wed, 26 Mar 2025

Daar gaan beslis niks vaals wees in die Vaaldriehoek dié naweek nie.
Die jaarlikse fees Rocking the Vaal beloof om besoekers op verskeie opwindende maniere besig te hou.
Dit is veral die nuwe rekordpogings wat mense nie moet misloop nie. Die rekordpogings is ’n groot hoogtepunt, sê Marinda Human, bemarkingsbestuurder van die Emerald-oord-en-casino. Dit bring ’n unieke element na die fees.
Die twee pogings waaroor hulle baie opgewonde is, is om ’n 3 km lange kebab te bedien. Die bestaande rekord is 2 047 km.
Om dit te behaal, gaan 2 048 mense gelyktydig 2,4 t vleis braai.
Die volgende rekord sal wees om die grootste pot mieliepap te maak waarvan 12 000 mense sal kan eet. Ongeveer 2 t mieliemeel sal gebruik word om dié enorme pot pap te maak en die huidige rekord van 1 t mieliemeel te oortref.
Verlede jaar se rekordserp. Foto: Instagram
Human sê verlede jaar se poging om ’n rekordlange serp te brei, was ’n groot hoogtepunt; daarom wil hulle vanjaar weer rekords opstel. Die vorige rekord vir die langste serp was 29 176 km.
“Die nuwe rekord wat ons behaal het, was 35 574 km,” vertel Human. “Ek is opgewonde om te sien wat gaan gebeur. Dit is maar net die begin van ’n nuwe tradisie.”
Die geleentheid Saterdag (29/03) in die Emerald-oord-en-casino beloof om iets vir elke besoeker te bied. Van die musikante wat gaan optree, is Jo Black, Appel, Martin Bester, Ruhan du Toit, BlackByrd, Piesangskille, Dodo en Fatman. Daar sal ook kosstalletjies en ’n opwindende program wees.
Jaco Verwey, president van die Goue Driehoek-kamer van koophandel. Foto: Vaalweekblad
Die organisering van so ’n groot geleentheid is uitdagend, maar hul span het dit met toewyding en geesdrif gedoen, vertel Jaco Verwey, president van die Goue Driehoek-kamer van koophandel.
Die vorige fees was ongelooflik, sê hy. “Dit is nie net ’n fees nie. Dit is die hele gemeenskap wat bymekaarkom en saam deel in ’n wonderlike ervaring.”