On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley: Man binnekort in hof ná hy glo vriendin aanrand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:31 Sun, 23 Mar 2025

Kimberley: Man binnekort in hof ná hy glo vriendin aanrand | News Article
Die verdagte het glo sy vriendin in Greenpoint, Kimberley, aangerand. Foto verskaf

’n Man (32) van Greenpoint in Kimberley sal binnekort in die hof verskyn nadat hy na bewering sy vriendin aangerand het.

“Die verdagte is Saterdag (22/3) in hegtenis geneem deur die Noord-Kaapse multidissiplinêre Operasie Vala Umgodi-span wat fokus op onwettige mynbedrywighede,” sê sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder. 

Die voorval het na bewering op 15 Maart plaasgevind. Volgens Sam was die span besig met 'n uitreikingsveldtog in Greenpoint toe hulle die vrou by haar grootouers se huis gekry het. 

“Sy het verskeie kneusplekke opgedoen en het baie pyn gehad. Haar gesig was geswel en sy kon skaars praat weens die beserings aan haar kakebeen." Sy het Vrydag (21/3) die saak by die polisie aanhangig gemaak en hy is ná wenke van die gemeenskap in hegtenis geneem.  Hy staan tereg op aanklagte van poging tot moord en gesinsgeweld. 

‘Sowat 60% van  moorde word deur lewensmaat/familielid gepleeg’

Volgens ‘n verslag in November van die Verenigde Nasies oor vrouemoord word ’n vrou of meisie elke tien minute in Afrika deur ’n lewensmaat of familielid vermoor. Sowat 60% van alle moorde word deur ’n lewensmaat of ander familielid gepleeg.

In die verslag Femicides in 2023: Global Estimates of Intimate Partner/Family Member Femicides word onthul dat vrouemoorde steeds wêreldwyd hoog bly.

Plaaslik is die bevindinge van die eerste doelgerigte Suid-Afrikaanse studie oor die voorkoms van geslagsgeweld in al nege provinsies bekendgestel – ’n week voor die internasionale dag vir die bekamping van geweld teen vroue op 25 November 2024 herdenk sou word. 

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het toe die eerste Suid-Afrikaanse nasionale studie oor geslagsgeweld (2022) in Gauteng aan Sindisiwe Chikunga, minister van vroue, jeug en mense met gestremdhede, oorhandig en aan die publiek gestel.

‘Meer as 7 310 389 vroue het al fisieke geweld ervaar’

Nompumelelo Zungu, adjunk- uitvoerende direkteur van die RGN, het daarop gewys daar is bevind 33,1% van alle vroue in Suid-Afrika ouer as 18 jaar het al fisieke geweld ervaar.

“Dit kom neer op meer as 7 310 389 vroue wat fisieke geweld ervaar het. Lewenslange fisieke geweld was aansienlik hoër onder swart vroue op 35,5%, in vergelyking met vroue van ander rassegroepe,” het Zungu gesê.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.