Central SA
Verdagtes gesoek ná aanval op fietsryers in Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:39 Sun, 23 Mar 2025

Niemand is nog in hegtenis geneem nie nadat twee Vrystaatse mans die naweek aangeval en een vermoor is toe hulle op hul fietse gery het.
Die Parkweg-polisie in Bloemfontein het met ’n soektog begin en die gemeenskap se hulp gevra nadat twee mans op die N1 naby die Southpark-stortingsterrein aangeval is, sê sers. Mahlomola Kareli.
“Die polisie is Saterdag (22/3) omstreeks 07:00 na die toneel ontbied waar hulle met hul aankoms die liggaam van ’n man (46) met skietwonde langs die pad gekry het.” Nog ‘n man (48) het beserings opgedoen.
“Daar word beweer dat die oorledene en die ander man op pad werk toe was toe twee onbekende swart mans hulle genader het. Die oorledene het probeer om verby die eerste verdagte te kom toe hy met 'n baksteen op die agterkop geslaan is wat veroorsaak het dat hy van sy fiets afgeval het.”
Volgens Kareli het die tweede verdagte op die man losgebrand. “Die ander slagoffer het daarin geslaag om van sy fiets af te spring en te vlug.”
‘Oorledene het twee skietwonde opgedoen’
Die verdagtes het albei fietse gesteel en gevlug. Lede van ’n veiligheidsmaatskappy het verby gery en die slagoffer gehelp en die polisie gebel.
“Die oorledene het twee skietwonde opgedoen – een agter aan die linkerkant van sy kop en nog een aan sy linkerhand.” Die polisie ondersoek sake van moord en gewapende roof.
Enigiemand wat inligting het kan Themba Dingile, ondersoekbeampte, by 065 079 0973 of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.
OFM Nuus dg