On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Motorfietsryer meermale geopereer ná twee motors hom tref

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:20 Wed, 19 Mar 2025

Motorfietsryer meermale geopereer ná twee motors hom tref | News Article
Kobus Maartens voor die ongeluk by sy motorfiets. Foto verskaf

’n Lang herstelpad lê voor vir ’n motorfietsryer van die Vaaldriehoek nadat hy sewe maande ná ’n motorfietsongeluk sy vyfde operasie ondergaan het.

Op die aand van 30 Augustus is Kobus Maartens se lewe tot stilstand geruk toe hy net ná 21:00 op pad huis toe vanaf vriende deur ’n motor van sy Hayabusa-motorfiets gestamp is. Kort ná die impak het nog ’n motor oor hom gery.

Kobus, wat al amper 40 jaar by Cape Gate werk, kon nog nie weer terugkeer werk toe nie. Hy het verlede week sy vyfde operasie aan sy erg beseerde linkerbeen ondergaan.

Ná die ongeluk is ’n eksterne raam om sy onderbeen geplaas om die gebreekte bene te stabiliseer, maar hy kan steeds geen gewig op die been sit nie, vertel sy vrou, Christine.

Christine en Kobus Maartens. Foto: Facebook

Die botsing het plaasgevind in Ravelweg, Vanderbijlpark, oorkant die Kompas Gemeente, sowat 600 m van sy huis af.

Ten tyde van die ongeluk het Christine hul voertuig bestuur en Kobus het voor haar op sy motorfiets gery. “Naby Rafters moes ek vir aankomende verkeer by ’n stopstraat stop toe ek Kobus uit die oog verloor het. Kort daarna het ek (iets) wat soos ’n swart voorwerp gelyk het, in die pad sien lê en besef dis Kobus.”

Toe ’n aankomende motor vanuit die teenoorgestelde rigting in sig kom, kon Christine die bestuurder beduie om stadiger te ry. ’n Wit bakkie het egter uit die rigting van Rossi’s Sports Bar gekom en bo-oor Kobus gery toe hy in die lug geslinger is voor hy weer op die grond geval het. “Dit was skrikwekkend,” sê Christine.

Kobus met ‘n eksterne stabiliseringsraam om sy linkerbeen. Foto verskaf

Die polisie en nooddienste is dadelik in kennis gestel. Ten spyte van die dringendheid het die polisie nooit op die toneel opgedaag nie. Die privaat ambulansdiens ER24 het blitsig gereageer.

Christine vertel Kobus het ernstige beserings opgedoen. “Hy het gebreekte ribbes aan die voor- en agterkant opgedoen, aansienlike skade aan albei knieë en enkels sowel as beserings aan sy nek en lae rug.

“Sy linkerbeen was so erg vergruis dat dokters die volgende oggend ’n noodoperasie moes uitvoer om dit te red.” Hy het tien dae om sy lewe geveg in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Emfuleni op Vanderbijlpark.

Geen vordering in soektog na verdagtes

Terwyl Christine en Kobus op geregtigheid wag, bly baie vrae onbeantwoord. “Die polisie het nog geen vordering gemaak in die soektog na moontlike verdagtes of die identiteit van die motors wat hom aanvanklik getref het nie.”

Haar selfoon is ook op die ongelukstoneel gesteel.

Volgens Christine is daar glo beeldmateriaal van ’n maatskappy se kamera wat dalk belangrike inligting het, maar toegang tot daardie data is ingewikkeld. “As gevolg van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia), vereis die verkryging van sulke besonderhede ’n hofbevel kragtens Artikel 205.”

Dankbaar vir ondersteuning

Ten spyte van die uitdagings is sy dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap, insluitend ’n insleepdiens wat ingespring het om te verhoed dat enige iets van haar man se motorfiets gesteel word.

Volgens Christine was daar vier voertuie op die toneel teenwoordig toe die voorval plaasgevind het: ’n Mazda 323, ’n wit bakkie, ’n BMW en ’n roomkleurige Ford Eco. Sy vra dat enigeen wat hulle met inligting kan help, haar nader by 074 481 5807.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.