On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse bejaarde sterf in polisieaanhouding

───   10:13 Tue, 29 Apr 2025

Bloemfonteinse bejaarde sterf in polisieaanhouding | News Article

’n Bejaarde van Bloemfontein wat aangekla is van die moord op sy seun, het in polisieaanhouding gesterf.

Erich Bruhns (56), ’n sakeman van Bainsvlei, is Maandagaand (21/4) in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorlede. 

Sy pa, Gert Bruhns (85), het hom na bewering twee dae vantevore in die nek geskiet ná ’n rusie op hul kleinhoewe in Meadhurstlaan, Bainsvlei.

Gert het Dinsdag (22/4) vir die eerste keer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklag van moord. Die saak is tot Dinsdag (29/4) uitgestel, maar die staatsaanklaer het in die hof bevestig dat Gert gesterf het, hoewel hy nie kon sê presies wanneer of waaraan nie.

Erich is Vrydag ter ruste gelê. Sy vriendin, Amelia Hattingh, het vroeër aan OFM Nuus gesê die aanloop tot die voorval het reeds die Woensdag begin nadat Erich gereël het dat ’n werker sy bejaarde pa se huis skoonmaak. Gert en sy seun het op dieselfde erf in afsonderlike huise gewoon.

Volgens haar het sy bejaarde pa ongeduldig met die helper geraak wat te lank geneem het na sy sin, waarna Erich gesê het die huis moes deeglik skoongemaak word weens die vuil toestand daarvan.

Die onenigheid het toegeneem by ’n groot sementgat op die eiendom, waar bouwerk aan die gang was. “Erich se pa het hom gestamp, en Erich het hom gegryp om te keer dat hy in die gat val. Die oom het geval en sy kop en vinger beseer.”

Erich Bruhns (56), ’n Bloemfonteinse sakeman van Bainsvlei, is Vrydag (25/4) ter ruste gelê. Grafika: Facebook

Gert het ’n aanrandingsklag teen sy seun ingedien, sê Hattingh, wat na die polisiekantoor toe is, waar sy en Gert ook stry gekry het.

Beamptes het haar glo gevra om die perseel te verlaat en gesê hulle moet die bejaarde beskerm. “Die polisie het ’n verklaring by die huis kom aflê en Erich het vir hulle gesê sy pa het ’n geweer in sy kas gehou en gedreig om hom te skiet.

“Hulle het gesê hulle kan nie die wapen verwyder nie en dat ander beamptes dit sal kom haal. Maar niemand het ooit gekom nie.”

Sonder waarskuwing geskiet

Uit vrees vir hul veiligheid het Hattingh en Erich beplan om vir sy pa ’n ander woonplek te reël.

Die paartjie was die Saterdagoggend op pad na Clarens. Terwyl hulle ’n paar goed in die bakkie gepak het, het hulle omgedraai en Gert daar sien staan met ’n vuurwapen. “Sonder waarskuwing het hy Erich in die nek geskiet,” het Hattingh beweer.

Gert is naby die N1 aangekeer nadat hy gevlug het. Beamptes het beslag gelê op ’n gelaaide vuurwapen en ekstra ammunisie tydens die inhegtenisneming. Erich word oorleef deur twee seuns en ’n dogter.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.