On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Een aangekeer, een vlug ná jaagtog in Kimberley

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:45 Fri, 14 Mar 2025

Een aangekeer, een vlug ná jaagtog in Kimberley | News Article
Die verdagte bakkie. Foto verskaf

Noord-Kaapse polisie het ’n verdagte in hegtenis geneem ná ’n jaagtog, maar soek nog na sy vermeende medepligtige, wat op die vlug geslaan het.

Die 38-jarige is aangekeer in Galeshewe, Kimberley, ná ’n agtervolging waarby die polisie se provinsiale ondersoekeenheid vir georganiseerde misdaad betrokke was. Die polisie het ook beslag gelê op ’n onwettige vuurwapen en ammunisie, sê lt.kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Polisielede het Woensdag (12/3) ’n bakkie met NW-nommerplate gewaar wat verdag gelyk het en dit probeer voorkeer, maar die bestuurder het in Galeshewe se rigting gejaag.”

Die vuurwapen. Foto verskaf

Volgens Kock het die insittendes tydens die jaagtog ’n swart sak met ’n 9 mm-vuurwapen en ammunisie uit die voertuig gegooi. “Die bestuurder van die wit Nissan NP200-bakkie het uiteindelik in ’n hek en motorhuismuur by ’n huis in Galeshewe vasgery.”

Die bestuurder, ene Mxolisi Vundisa, het te voet gevlug maar die polisie het daarin geslaag om die passasier in hegtenis te neem. “Die vuurwapen, waarvan die reeksnommer verwyder is, is teruggevind en daar is op die bakkie, as bewysstuk in verband met die misdaad, beslag gelê.”

Die verdagte word in die gesig gestaar deur aanklagte soos die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie, opsetlike saakbeskadiging, roekelose en nalatige bestuur, versuim om te stop wanneer ’n polisiebeampte opdrag gegee het, weerstand teen arrestasie en regsverydeling.

Foto verskaf

Hy sal na verwagting binnekort voor die Kimberley-landdroshof verskyn.

Enigiemand wat moontlik die verdagtes herken, kan speursers. Lesego Atoro by 082 494 9943 kontak. Bel Stop Misdaad by 08600 10111 of gebruik die MySAPS-app gebruik vir wenke.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

OFM Nuus cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.