On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Kimberleyse man tronk toe weens motordiefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:49 Tue, 11 Mar 2025

Kimberleyse man tronk toe weens motordiefstal | News Article
Daar is ’n positiewe tendens in die bekamping van voertuigverwante misdaad. Foto: iStock

Die polisie hoop ’n Noord-Kapenaar se vonnis vir motordiefstal sal mense bewus maak dat die misdaad nie ligtelik opgeneem sal word nie.

Hanro Pietersen (50) is Woensdag (5/3) in die Kimberley-streekhof tot ses jaar tronkstraf gevonnis weens motordiefstal, sê sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder. Hy is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Pietersen het einde 2020 die klaer op die Riverside-plaas naby Plooysburg besoek, waar hy aan die klaer gesê het hy is ’n werktuigkundige wat sy Nissan X-Trail, ter waarde van R70 000, kon regmaak.

“Die klaer het die beskuldigde R15 000 betaal om die voertuig te herstel, waarna die beskuldigde die voertuig na Kimberley gesleep het. Hy het aan die klaer gesê dat hy die voertuig se dokumente saam neem ingeval die polisie hom op pad voorkeer,” sê Shemane.

Die ondersoekbeampte in die saak, sers. Samuel Witbooi. Foto verskaf

Pietersen het egter na die Kimberley-verkeersafdeling gegaan, die klaer se handtekening vervals en die voertuig op sy naam geregistreer. “Ná die herstelwerk het hy die voertuig aan ’n persoon in Roodepan, Kimberley, verkoop.”

Shemane sê die klaer het ná vele pogings om sy voertuig terug te kry, agtergekom dat die voertuig verkoop is en het die polisie genader, waarna ’n saak van motordiefstal en bedrog geopen is.

Die polisie kon die voertuig terugkry en die beskuldigde is in Januarie 2021 in hegtenis geneem. Hy was sedertdien uit op borg.

Afname van 19,5% in motordiefstalvoorvalle

Volgens die jongste misdaadstatistiek vir die tydperk van Oktober tot Desember 2024 is altesaam 4 807 voertuie as gesteel aangemeld. Dit dui op ’n aansienlike afname in vergelyking met dieselfde tydperk in 2023, toe 5 973 voertuie gesteel is. Dit verteenwoordig ’n vermindering van 1 166 gesteelde voertuie, gelykstaande aan ’n afname van 19,5% in motordiefstalvoorvalle.

Dit dui dit op ’n positiewe tendens in die bekamping van voertuigverwante misdaad.

Die polisie se Statistiek van motorfiets- en voertuigdiefstal wat in die derde kwartaal aangemeld is.

Daar was ook ’n afname in die Noord-Kaap. Van Oktober tot Desember 2023 is altesaam 37 voertuie of motorfietse as gesteel aangemeld. Gedurende dieselfde tydperk in 2024 is slegs 28 voertuie of motorfietse gesteel – ’n afname van nege gevalle.

Hierdie klein getal diefstalgevalle in die Noord-Kaap dra slegs 0,4% by tot die totale getal van motorfiets- en voertuigdiefstal in die land. Alhoewel die getalle min is, doen die polisie steeds ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly en voorsorgmaatreëls te tref om hul voertuie te beskerm.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.