Central SA
Gesondheidsentrum op Vanderbijlpark opgegradeer tot distrikhospitaal─── ZENANDE MPAME 11:01 Tue, 04 Mar 2025

’n Gemeenskapgesondheidsentrum in die Vaaldriehoek word opgegradeer na ’n distrikhospitaal om toegang tot gehalte-gesondheidsorg te verbeter deur primêregesondheidsorgdienste vir binne- sowel as buitepasiënte uit te brei.
Opknapping aan die Johan Heyns-sentrum in Vanderbijlpark se middedorp sal in fases uitgevoer word oor drie boekjare tot 2028. Tydens die opknapping verander die sentrum se ure van 24 uur daagliks na 07:00 tot 16:00, Maandae tot Vrydae.
Die opgradering het Maandag (3/3) begin en is daarop gemik om gesondheidsorgdienste vir die groeiende gemeenskap van die Emfuleni-munisipaliteit uit te brei.
“Die departement moedig gemeenskappe aan om geduldig te wees tydens die opknappings en versoek pasiënte om nabygeleë instellings te besoek vir dienste, waar moontlik,” sê Motalatale Modiba, Gautengse gesondheidswoordvoerder.
Johan Heyns bedien gemiddeld 8 000 pasiënte per maand, onder wie pasiënte uit informele nedersettings selfs uit die Vrystaat. Die oprigting van ’n distrikhospitaal sal die aantal verwysings na die Sebokeng-streekhospitaal verminder.
Weens bevolkingsgroei is die Sebokeng-streekhospitaal en Kopanong-distrikhospitaal tans oorlaai met pasiënte, wat tot ’n tekort aan hospitaalbeddens en ’n verswakking in sorgstandaarde lei.
Sekere dienste verwys
Die departement maak voorsiening vir die lewering van chroniese dienste, insluitend hipertensie, diabetes, epilepsie, immunisasieprogramme, moeder-en-kindergesondheid, voorgeboortesorg, geestesgesondheid, gesinsbeplanning, MIV-toetsing en MIV/vigs-voorkomingsmedikasie.
Sekere dienste, soos swangerskapbeëindiging, sal na die Kopanong-hospitaal verwys word, terwyl X-straal-, ongevalle- en kraamdienste beskikbaar sal wees in die Sharpeville-gemeenskapsgesondheidsentrum en Boipatong.
Vandalisme by die kliniek op Koffiefontein het gesondheidsdienste ontwrig. Foto verskaf
Intussen veroordeel die Vrystaatse gesondheidsdepartement vandalisme by die Koffiefontein-kliniek wat dienslewering ontwrig het. Die departement het nog nie ’n opdatering oor die hervatting van dienste ná die skade bekendgemaak nie.
“Ons doen ’n beroep op die publiek om geduldig te wees terwyl ons herstel ná hierdie betreurenswaardige voorval,” sê Mondli Mvambi, provinsiale gesondheidswoordvoerder. “Die vandalisme het belangrike gesondheidsdienste belemmer en die instelling is nou ’n misdaadtoneel wat deur die polisie ondersoek word.”
’n Tandheelkundige narkosemiddel, Xylocaine of Xylotox, word vermis en pasiëntlêers is ontoeganklik. Verpleegkundiges is besig om pasiënte te ondersoek om te verseker dat diegene in die mees kritieke toestand na die Diamant-hospitaal geneem word, sê hy.