On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Klasmaats kry berading ná Upington-leerder se skielike dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:07 Wed, 26 Feb 2025

Klasmaats kry berading ná Upington-leerder se skielike dood | News Article
Chadwin Kammies. Foto verskaf

Beraders van die Noord-Kaapse onderwysdepartement besoek Woensdag (25/2) ’n Noord-Kaapse skool waar ’n leerder in ’n klas ineengesak en gesterf het.

Die plaaslike polisie stel ondersoek in ná die skielike dood Dinsdag van die gr. 10-leerder Chadwin Kammies (15) van die Hoërskool Upington. “Nooddienste is dadelik ontbied, maar hy is kort daarna dood verklaar,” sê ao. Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Ouers van die skool is dadelik in kennis gestel en sy klasmaats is na die skoolsaal geneem. Uit respek vir Chadwin en sy naasbestaandes het die hoërskool Dinsdag alle akademiese, sport- en kultuuraktiwiteite vir die res van die dag opgeskort.

Chadwin se energie en geesdrif het die klaskamers en gange gevul, vertel die skoolhoof, J-Ell Slabbert. Hy het ’n blywende indruk gemaak op almal wat hom geken het. “Hy het elke dag met passie gelewe en diegene rondom hom geïnspireer.

“As ’n ongelooflik ordentlike jong man het Chadwin die waardes uitgeleef wat ons by Hoërskool Upington koester. Sy respek vir ander, sy hoflikheid en sy eerlikheid was eienskappe wat hom ’n geliefde figuur in ons skoolgemeenskap gemaak het. Onderwysers en leerders het hom ewe veel bewonder vir sy karakter en integriteit.”

Slabbert wil Chadwin se geliefdes verseker hul seun het diep spore in die skoolgemeenskap se hart getrap. “Hy was waarlik een van Uppies se seuns en ons sal hom altyd as deel van ons familie beskou.”

‘Chadwin se gees sal voortleef in klasmaats se stories’

Die skool het sy klasmaats aangemoedig om herinneringe van hom met mekaar te deel en om mekaar in hierdie moeilike tyd by te staan. “Chadwin se gees sal voortleef in die stories wat julle vertel en die herinneringe wat julle koester.

“Mag ons almal troos vind in die wete dat Chadwin se kort lewe nie gemeet word aan die jare wat hy geleef het nie, maar aan die diep impak wat hy op ons almal gemaak het.”

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement betuig ook sy medelye. Hy het gereël dat die ondersteuningsdiens vir werknemers (ESS) die skool besoek om berading aan personeel en studente te bied wat deur die skielike dood van Chadwin geraak word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.