Central SA
Vrystaatse kindersorgsentrum vervalle ‘weens wanbestuur’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:09 Sun, 16 Feb 2025

’n Kindersorgsentrum in die Vrystaat is die afgelope vyf jaar in ’n toestand van verval, hoofsaaklik weens wanbestuur, ondanks talle oproepe om ingryping.
Die DA in die Vrystaat gaan weereens die aandag van die provinsiale wetgewer vestig op die beweerde voortdurende verwaarlosing van die Barend van Rensburg-kindersorgsentrum in Thaba Nchu, sê Tumelo Rammile, Mangaung-DA-raadslid.
“Ons sal die departement van maatskaplike ontwikkeling aanspreeklik hou vir sy versuim om ’n veilige en stabiele omgewing vir kwesbare kinders te skep.”
Volgens Rammile het die departement sedert 2016 talle verslae ontvang wat kommer oor veiligheid en nakoming by die instelling uitspreek. “Die ANC-beheerde regering het egter herhaaldelik hierdie waarskuwings geïgnoreer, en gevolglik het die gebou in ’n gevaarlike toestand verval.”
Die Barend van Rensburg-kindersorgsentrum. Foto verskaf
Hy sê dat jare se verwaarlosing aansienlike strukturele skade aangerig het, insluitend ’n nie-funksionele rioolstelsel en ’n dak wat voortdurend lek. “Die situasie het vererger weens die departement se versuim om Eskom-rekeninge betyds te vereffen, wat lei tot gereelde kragonderbrekings, veral in die winter.”
Rammile sê as ’n direkte gevolg van hierdie wanbestuur is kinders by die sentrum verplaas. “Hulle was sonder ’n stabiele huis, blootgestel aan ernstige veiligheids- en gesondheidsrisiko’s. Die afgelope vyf jaar is hierdie kinders van een tydelike fasiliteit na ’n ander verskuif met geen permanente oplossing in sig nie.
‘DA sal aanhou veg’
“Ons eis onmiddellike ingryping van die departement van maatskaplike ontwikkeling, en ons sal die kwessie na die provinsiale wetgewer eskaleer om aanspreeklikheid en spoedige optrede te verseker.”
Intussen word nog ’n kindersorgsentrum, in Kimberley, deur ’n finansiële krisis in die gesig gestaar weens ’n maandelikse tekort van R150 000.
Die veiligheid en welstand van die 61 inwoners van die Helen Bishop- ortopediese nasorghuis is in gevaar, aangesien die finansiële druk dit moeilik maak om die nodige mediese sorg tr bied aan die gestremde kinders wat daar woon, volgens Rodger Adams, voorsitter van die Helen Bishop-raad.
Die Barend van Rensburg-kindersorgsentrum. Foto verskaf
Die VF Plus-wetgewerlid Theo Joubert het onlangs gevra dat die provinsiale gesondheidsdepartement aanspreeklik gehou word vir sy verwaarlosing in die versorging van hierdie tehuis, wat aan kinders met gestremdhede toegeken is.
“Die huis is in ’n kritieke toestand en die departement se versuim om voldoende subsidie te verskaf, plaas die lewens van hierdie kinders in die gedrang.”
’n Geldinsameling vir die tehuis word Vrydag (21/2) om 18:00 in Helen Bishop se saal gehou.
OFM Nuus cg