Central SA
Opruiming begin ná tornado verwoesting saai in Welkom─── MORNÉ VAN ROOYEN 19:59 Sun, 05 Jan 2025
Opruiming is onderweg op die Vrystaatse Goudveld waar ’n tornado verwoesting gesaai het.
Die provinsiale regering neem met kommer kennis van die skade, maar sê dis nog onduidelik of Sondag (5/1) se weerverskynsel ’n tornado of hewige donderstorm was. Talle sosialemediagebruikers tref egter vergelykings met die tornado wat in 1990 deur Riebeeckstad geskeur het, wat hulle as veel erger onthou. Dié keer het Riebeeckstad skade vrygespring.
“Ons wag op ’n verslag van die SA Weerdiens om te bevestig of dit inderdaad ’n tornado was, soos wyd berig word,” sê Zimasa Mbewu, woordvoerder van die departemente van samewerkende regering en tradisionele sake, en menslike nedersettings.
By HTS Welkom is bome ontwortel en parkeerafdakke beskadig. Foto: Facebook
Voorlopige berigte dui op skade aan ’n brandweerstasie in Welkom, ’n vulstasie, die Hoërskool Unitas, die Hoër Tegniese Skool Welkom – waar bome ontwortel is en van die parkeerafdakke in die slag gebly het – en etlike huise en sakeondernemings. “Luidens berigte is twee mense beseer toe die sterk wind ’n plaaslike vulstasie se dak afgewaai het; hulle is na nabygeleë hospitale geneem,” sê Mbewu.
“Selfs die Sasol-motorhawe langs die Sassa(-kantoor) het geen dak nie,” het Michael Duka, ’n sosialemediagebruiker geskryf. Nog ’n onderneming wat skade gely het, is Westvaal Welkom Suzuki, wat ’n paar vensters verloor het, skryf Zona Lee Geyer op Facebook.
Brandweerdienste van buurdorpe moes bystand in Welkom kom verleen nadat Matjhabeng se brandweerstasie erg deurgeloop het. Foto: Facebook
Die brandweerstasie is gedeeltelik beskadig, maar blykbaar is niemand beseer nie, hoewel beamptes aan diens was. “Die gebou staan nou leeg,” sê Mbewu, “maar brandweerdienste van buurdorpe is ontbied om in die omgewing van Welkom bystand te verleen.”
Lejweleputswa-distrik se rampbestuurskantoor was ook in die pad van die sterk wind. Sy netwerkverbinding is afgesny, wat dit moeilik maak vir die distriksrampspanne om met die publiek te kommunikeer. “Maar die distrikspanne is al van (Sondagoggend) af op die grond om hulp in noodgevalle te verleen, en selfs (laatmiddag) kan ons berig dat hulle inligting inwin (oor die omvang van die skade,” het Mbewu laat Sondagmiddag gesê.
’n Sasol-motorhawe was een van die ondernemings in die pad van die tornado. Foto: Facebook
“Daar was ’n enorme tornado,” het Noma Mtebele Sondagmiddag op Facebook geskryf. “Vlieënde metaalplate het soos velle papier in die lug gelyk.” Maar op dié sosialemediaplatform verskil gebruikers van mekaar oor presies wat die skadelike weerverskynsel was.
Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die tornado (regs) deur ’n deel van Welkom waai. Skermskoot: Facebook
“’n Hewige stormwind in die vorm van ’n lang, smal, tregtervormige, roterende lugkolom wat baie vinnig ontwikkel en teen ’n hoë snelheid oor ’n gebied beweeg, wat deur swaar donderstorms voortgebring word en van die basis van die donderwolke tot op die grond strek, wat sterftes en groot verwoesting kan veroorsaak…” is die woordeboekdefinisie van ’n tornado, nes talle Goudvelders Sondag se ramp beleef het.
In die tornado wat Welkom op 20 Maart 1990 getref het, is meer as 800 huisgesinne in Flamingopark, Rheederpark en Riebeeckstad dakloos gelaat, twee mense het gesterf en 98 is beseer.