Central SA
Klerksdorp: Ouers kry borgtog ná beweerde kinderverwaarlosing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:25 Sat, 28 Dec 2024
Twee ouers van Noordwes moet weer op 5 Februarie in die hof verskyn op aanklag van die verwaarlosing van hul 14 maande oue baba.
Die beskuldigdes (21 en 26) is Dinsdag (24/12) op borgtog van R3 000 elk deur die Klerksdorpse landdroshof vrygelaat, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Die hofverskyning spruit uit ’n voorval Maandag (23/12) in die vroeë oggendure toe die polisie na ’n huis in Tigane naby Hartbeesfontein ontbied is.
“Daar word beweer die ouers het hul babadogter alleen by die huis gelos toe hulle na ’n nabygeleë taverne gegaan het.” Volgens Myburgh het die pa die kind in ’n stadium by die huis gaan haal, teruggekeer na die taverne terwyl die peuter sonder toesig rondgedwaal het.
‘Hulle kon haar nie kry nie’
“Die ouers het na hul kind begin gesoek, maar kon haar nie kry nie en is na die polisiekantoor om hulp te ontbied,” sê Myburgh.
Die kind is later huilend voor ’n onbekende huis in die omgewing gevind. “Die ouers is dadelik in hegtenis geneem en staan nou tereg op aanklagte van kinderverwaarlosing.”
‘Kind in die sorg van 'n familielid’
Die departement van maatskaplike ontwikkeling is gekontak en die kind is in die sorg van ’n familielid geplaas.
Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, veroordeel die voorval ten sterkste. “Alle ouers word versoek om die feestyd waaksaam te wees oor waar hul kinders is. Die polisie sal onverpoosd werk om ’n suksesvolle vervolging te verseker.”
OFM Nuus dgg