On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-polisieman in hof oor skietery in kuierplek

───   MORNÉ VAN ROOYEN 08:58 Fri, 27 Dec 2024

Noordwes-polisieman in hof oor skietery in kuierplek | News Article
Foto ter illustrasie

’n Polisieman van Noordwes maak na verwagting Vrydag (27/12) sy eerste hofverskyning ná ’n middernagtelike skietery in ’n kuierplek.

Die konstabel (34) verbonde aan die polisiekantoor op Bray, ’n doeanepos en nedersetting aan die Botswana-grens, is douvoordag op Oukersdag (24/12) aangekeer op Ganyesa, sowat 70 km noord van Vryburg.

Hy is in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n 21-jarige in ’n plaaslike taverne geskiet het, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. “Die slagoffer is inderhaas na ’n plaaslike hospitaal geneem, waar hy in ’n ernstige toestand opgeneem is.”

Die konstabel het die slagoffer glo in ’n kuierplek op Ganyesa geskiet. Foto: Facebook/North West Times

Beamptes het beslag gelê op ’n 9 mm-pistool. Die saak is na die polisiediens se onafhanklike klagtedirektoraat vir verdere ondersoek verwys.

Genl.Maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, verwelkom die inhegtenisneming en bedank die betrokke polisiebeamptes vir hulle “volgehoue pogings”. Hy herhaal die polisie se standpunt dat beamptes wat hulle aan misdade skuldig maak, nie in die polisiediens geduld sal word nie.

Ganyesa is sowat 70 km noord van Vryburg geleë. Foto: Facebook/North West Times

Talle Sentraal-Suid-Afrikaanse polisiebeamptes het vanjaar met die gereg gebots.

  • In Februarie is drie beamptes van Noordwes aangekeer nadat hulle na bewering R6 000 omkoopgeld van ’n verdagte geëis het om hom nie in hegtenis te neem nie. Die Valke het die drie speurders in hegtenis geneem nadat ’n lokval opgestel is.
  • In Mei is ’n afgetrede polisiebeampte van Welkom gevonnis vir die onwettige besetting van ’n staatshuis waarmee hy huurders uit duisende rande se huurbetalings verkul het. Manie Richard Williams (66) het maandeliks R75 000 van vyf huurders gevorder tot die polisie toegeslaan het.
  • Ook in Mei is kapt. Karel du Toit, hoof van die eenheid vir veediefstal en bedreigde plantspesies op Springbok, in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog en die oortreding van die Toerismewet. Hy is vrygelaat op borgtog van R50 000 met streng voorwaardes. 

Kapt. Karel du Toit van die eenheid vir veediefstal en bedreigde plantspesies in Namakwaland. Foto: GroundUp

  • ’n Konstabel van Vosburg in die Noord-Kaap is in Julie in hegtenis geneem nadat hy na bewering onder die invloed van drank in sy eie voertuig in ’n huis op De Aar vasgery het. 
  • Einde Julie is ’n gewese adjudant-offisier van Bloemfontein op R5 000 borgtog vrygelaat nadat hy na bewering in 2022 sy hoofde se handtekeninge nagemaak en R134 000 uit die geheime diens se rekening onttrek het. Hy het bedank en het oneervolle ontslag ontvang. 
  • In November het ’n polisieman van Itsoseng naby Lichtenburg in Noordwes na bewering twee mense doodgeskiet, een gewond en toe sy eie lewe geneem. Konst. Lesego Eugene Phefo (28) het glo op ’n huispartytjie sy vuurwapen uitgeruk en begin skiet, onder meer op ’n vriend. 
  • Elders in Noordwes ondersoek die polisie ’n aanrandingsklagte teen ’n polisieman wat na bewering op Saterdag 14 Desember ’n lid van die publiek ná ’n onderonsie in ’n haarsalon in Rustenburg aangerand het terwyl hy van diens af was. Kollegas moes tussenbeide tree toe die beampte die man by die polisiekantoor verder aangerand het nadat dié ’n klagte aanhangig wou maak.
  • ’n Vrystaatse sersant en ’n medepligtige moet op 12 Januarie in Hennenman se landdroshof verskyn nadat hulle weer vir dwelmbesit aangekeer is. Hulle is sewe maande gelede ook in hegtenis geneem, maar voorwaardelik vrygelaat hangende verdere ondersoek. 

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.