On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Beskuldigdes bly in aanhouding wat Noordwes-oordeienaar glo aanrand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:01 Sat, 28 Dec 2024

Beskuldigdes bly in aanhouding wat Noordwes-oordeienaar glo aanrand | News Article
Marc Hanscombe van Hanscombe’s Haven by Orkney. Foto: Facebook/Marc Hanscombe

Die drie mans wat van poging tot moord aangekla word nadat hulle na bewering die eienaar van ’n vakansieoord in Orkney aangerand het, bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.

Hanyane Ronauld Mei (47), Danile Nxamakele (35) en Pitso Radebe (47) het Vrydag (27/12) in die Orkneyse landdroshof verskyn. Hul saak is tot 3 Januarie vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel, sê Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Die beskuldigdes het hulle op Oukersdag (24/12) aan die polisie oorgegee en is sedertdien in aanhouding.

Die aanklagte spruit uit ’n voorval op Versoeningsdag (16/12) toe die mans vir Marc Hanscombe (53), die eienaar van Hanscombe’s Haven, verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek het.

Verdagtes dan hof toe ná aanranding op oordeienaar van Orkney | News Article

’n Skermgreep van die voorval. Marc Hanscombe is derde van regs. Foto: Facebook/Petrus Phakamile Sitho

Die aanval het glo plaasgevind nadat hy ’n groep besoekers laatmiddag beveel het om die oord te verlaat omdat hulle die reëls oortree het, het Sam Tselanyane, Noordwes-polisiewoordvoerder, ná die aanval gesê.

Volgens Myburgh het werknemers die groep twee keer gewaarsku dat die rook van ’n waterpyp teen die oord se reëls is. Hulle het die eienaar gebel toe die groep aggressief geraak het.

“Toe die eienaar na die groep gegaan het, is hy glo aangerand en verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek.” Hanscombe is in die waakeenheid van die hospitaal opgeneem en is eers Maandag (23/12) ontslaan.

Vier vriende van die beweerde aanvallers het voorkomend klagte van aanranding teen Hanscombe by die polisiekantoor aanhangig gemaak. Kort daarna het Hanscombe se seun ook dieselfde gedoen.

Hanscombe’s Haven het ’n swembad, dam, rivier, kinderpark, snoepwinkel, braaiplekke, kroeg en ander geriewe. Foto: Facebook

’n Video van die voorval is wyd op sosiale media versprei en wys hoe Hanscombe en ’n groep mans baklei terwyl vroue probeer ingryp. ’n Man kan ook gesien word wat ’n skerp voorwerp uithaal en Hanscombe twee keer in die rug steek.

Die polisie vra sosialemediagebruikers moenie onbevestigde inligting versprei nie en hierdie platforms verantwoordelik gebruik. Dit sal voorkom dat ondersoeke belemmer word. 

Die ondersoek duur voort.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.