Central SA
Bloemfonteinse vrou nog nie hof toe ná moord op kêrel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:22 Fri, 27 Dec 2024
’n Vrystaatse vrou wat tereg staan op aanklag van moord, se hofdatum sal bekendgemaak word sodra ondersoeke afgehandel is.
Die verdagte (30) is Woensdag (25/12) in hegtenis geneem nadat sy glo haar kêrel (ook 30) met ’n mes gesteek het, sê sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Beamptes is omstreeks 20:30 ontbied na ’n huis in Dark City, Phahameng, nadat hulle inligting oor ’n beweerde moord ontvang het.
Volgens Kareli was nooddienste reeds op die toneel toe die polisie opdaag. “Die slagoffer is in die bors gesteek en op die toneel dood verklaar.”
Die verdagte is op die betrokke aand in hegtenis geneem en die beweerde moordwapen is in die huis gevind. Ondersoeke duur voort.
Kêrel ook op Bultfontein vermoor
In ’n afsonderlike voorval sal nog ’n Vrystaatse vrou na verwagting Vrydag (27/12) in die Bultfonteinse landdroshof verskyn nadat sy ook daarvan aangekla is dat sy haar kêrel doodgesteek het.
Die verdagte (30) is volgens Kareli Donderdag (26/12) in hegtenis geneem ná die noodlottige messteek. “Bultfontein se polisie is omstreeks 02:00 na ’n moordtoneel in Lesedistraat ontbied. Met hul aankoms het die polisie ’n man (28) in ’n plas bloed aangetref.”
Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
OFM Nuus mc