Central SA
Vrystaatse vrou in hof vir moord op vriend─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:13 Fri, 27 Dec 2024
’n Vrystaatse vrou sal Vrydag (27/12) in die hof verskyn nadat sy na bewering haar kêrel vermoor het.
Die verdagte (30) is Donderdag (26/12) in hegtenis geneem ná die noodlottige messteek op haar kêrel, sê sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Bultfontein-polisie is Donderdag omstreeks 02:00 na ’n moordtoneel in Lesedistraat ontbied. Met hul aankoms het hulle afgekom op ’n … man (28), wat in ’n plas bloed gelê het,” sê Kareli. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
Verdagtes voor ná oordaanranding
In Noordwes kom drie verdagtes na verwagting Vrydag (27/12) voor in die landdroshof op Brits op aanklagte van poging tot moord.
Die verdagtes (tussen 30 en 40) het hulle op Oukersdag (24/12) aan die polisie oorgegee nadat hulle na bewering die eienaar van ’n oord op Orkney aangerand het.
Marc Hanscombe van Hanscombe’s Haven op Orkney het die aanslag op sy lewe oorleef. Foto: Facebook/Marc Hanscombe
Marc Hanscombe (53), eienaar van die dagoord Hanscombe’s Haven, is op Versoeningsdag (16/12) verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek. “Die voorval het glo plaasgevind nadat Hanscombe ’n groep besoekers gevra het om die oord te verlaat omdat hulle die reëls oortree het,” het Sam Tselanyane, Noordwes-polisiewoordvoerder, gesê.
Die besoekers het, strydig met die oord se reëls, ’n waterpyp gerook, sê Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder. Hulle het aggressief geraak toe werknemers hulle twee maal gevra het om dit te staak. “Toe die eienaar … met die groep gaan praat, is hy aangerand en meermale met ’n mes gesteek.”
Oor-en-weer aanklagte
Hanscombe is in die waakeenheid van ’n plaaslike hospitaal opgeneem en eers Maandag (23/12) ontslaan.
Volgens Myburgh het vier vriende van die beweerde aanvallers klagte van aanranding teen Hanscombe by die plaaslike polisiekantoor aanhangig gemaak. “Kort daarna het Hanscombe se seun ook klagte ingedien.”
Die verdagtes is sedert die voorval in polisieaanhouding.
OFM Nuus mc