Central SA
Vier Potchefstromers in hof vir moord en ontvoering─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:14 Wed, 18 Dec 2024
Vier van die vyf verdagtes van Potchefstroom wat teregstaan op aanklagte van ontvoering en twee aanklagte van moord, sal na verwagting weer Donderdag (19/12) in die hof verskyn vir ’n formele borgaansoek.
Die vyf verdagtes het ’n week gelede in Wolmaransstad se landdroshof verskyn toe een van hulle ’n staatsgetuie geword het, sê lt.kol. Sam Tselanyane, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Khulelaphi Joseph Bernard (53), Dikopo Alvin Bani (27), Takana Takana (36), Siyabonga Bernard (22) en Obakeng Seiphetlho (28) is Dinsdag 10 Desember deur die provinsiale teenbende-eenheid in samewerking met die polisie van Kanana en Leeudoringstad in hegtenis geneem.
Volgens Tselanyane het die polisie inligting ontvang oor twee mans van Kanana, Orkney, wat ontvoer is. “Met die polisie se aankoms by ’n huis in Kanana, was daar geen spoor van die verdagtes of die slagoffers nie.”
een van hulle het staatsgetuie geword
Die soektog is voortgesit, en die liggame van twee mans is in vlak grafte tussen Orkney en Leeudoringstad gevind. Die liggame is verbrand voordat dit begrawe is.
“Ná deeglike ondersoek is Bernard, ’n plaaseienaar, en sy susterskind Bani in hegtenis geneem nadat daar bloedvlekte op hul klere gevind is.”
Die derde verdagte, Takana (36), ’n Lesotho-burger, is later daardie dag in Kanana aangekeer nadat die polisie ’n wenk ontvang het.
“Die ondersoek het aan die lig gebring dat Bernard ook ’n drankwinkel in Kanana besit waarby daar gedurende die naweek van 7 Desember ingebreek is.
bloedvlekte op hul klere
“Bernard het glo daardie Sondag saam met die ander verdagtes na die slagoffers gaan soek,” sê Tselanyane. Hulle het die slagoffers opgespoor, hulle na bewering met geweld agter op ’n Nissan NP300-bakkie gelaai en weggejaag.
Dit was die laaste keer dat die slagoffers lewend gesien is. “Een slagoffer se liggaam is vermink gevind, terwyl die ander ’n sny aan sy keel gehad het.”
Die twee ander verdagtes, Bernard en Seiphetlho, het hulle Woensdag (11/12) aan die polisie oorgegee. Albei word van ontvoering en moord aangekla.
slagoffer se liggaam is vermink
Tselanyane sê alle aanklagte teen Seiphetlho is egter later laat vaar nadat hy ingestem het om ’n staatsgetuie te word. Bernard, Bani, Takana en Siyabonga Bernard bly in aanhouding.
Die polisie het ook beslag gelê op die voertuig wat na bewering gebruik is om die misdade te pleeg.