On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vleisskade vir plaasbewoners buite Bloemfontein weens af krag

───   MARIETJIE GERICKE 14:40 Thu, 19 Dec 2024

Vleisskade vir plaasbewoners buite Bloemfontein weens af krag | News Article
Susan Nortje, Miem Kolbe en Cas Kolbe van die plaas Berlein moes al hulle vleisprodukte weggooi wat vrot geword het, omdat hulle al ’n week sonder krag sit. Foto verskaf

Bewoners van twee plase oos van Bloemfontein vra Eskom moet dringend help nadat hulle al ’n week sonder krag moet sien en kom klaar.

Hul vleis word vrot, water kan nie van hul watertenks oorgepomp word na hulle huise toe nie, saans is dit donker en gevaarlik, en elektriese toerusting soos stofsuiers, wasmasjiene en skottelgoedwassers kan nie gebruik word nie. Hulle is ook afgesny van die buitewêreld, omdat dit onmoontlik is om selfone te laai.

Monica Klopper sê haar ouers, Cas en Miem Kolbe, woon in een van talle huise op die plaas Berlein, sowat 7 km vanaf die Phillip Saunders-oord naby Maselspoort. Inwoners op ’n nabygeleë plaas ly weens die onverkwiklike omstandighede nadat die krag laat Vrydagmiddag (13/12) afgegaan het.

Inwoners het moes pakke vol vrot vleis weggooi. Foto verskaf

“My ouers kry al reeds geldelik swaar en het dit nie breed nie; nou moes hulle ook nog ontslae raak van hulle vleis wat vrot geword het,” vertel Klopper. “Willem van Rensburg, wat ook op die plaas woon, het die omstandighede Saterdag by Eskom aangemeld en ’n verwysingsnommer gekry.

“Hy het Dinsdag na Eskom se kantoor in Bloemfontein gery, waar vir hom gesê is hulle sou dieselfde dag nog iemand uitstuur, wat nie gebeur het nie.”

Intussen het die VF Plus Woensdag ’n klagte oor die situasie ingedien, maar niks het nog gebeur nie, sê Klopper. “Die inwoners sit met hulle hande in die hare. Eskom het vroeër laat weet dat ’n man van Postmasburg sal moet kom om die herstelwerk te doen en dat hy ‘sekere kleppe’ sal moet boor.”

Nog vleisprodukte wat weggegooi moes word. Foto verskaf

Die nodige gate word Donderdag geboor en die pale word geplant, het Stefanie Jansen van Rensburg, Vrystaatse Eskom-woordvoerder, by navraag aan OFM Nuus gesê. 

Volgens Jansen van Rensburg het die weer skade aan die kragpale aangerig. 

“Daar het pale op die grond gelê. As alles volgens plan verloop, behoort die kragtoevoer Donderdagaand herstel te wees,” sê sy.

OFM Nuus/Marietjie Gericke mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.