On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Nigeriër en vrou van Lichtenburg in hof ná dwelmlokval

───   HEIDRÈ MALGAS 14:36 Thu, 19 Dec 2024

Nigeriër en vrou van Lichtenburg in hof ná dwelmlokval | News Article
Beamptes het tydens die optrede op 649 mandraxtablette, 40 pakkies tik en deurskynende plastiekhouers vol CAT beslag gelê. Foto verskaf

’n Nigeriër (48) en ’n Suid-Afrikaanse vrou (33) kom na verwagting Vrydag (20/12) voor in die Lichtenburgse landdroshof nadat hulle aangekeer is vir die besit van en handel in dwelms.

Die vrou word ook van korrupsie aangekla, omdat sy na bewering ’n polisiebeampte probeer omkoop het.

In ’n operasie Woensdag (18/12) het ’n gesamentlike taakspan, bestaande uit die valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, die provinsiale dwelmtaakspan en Lichtenburg se honde-eenheid, die twee aangekeer vir die beweerde onwettige besit van dwelms en handel daarin, sê Tinyiko Mathebula, Valke-woordvoerder. 

Wetstoepassers het ingegryp nadat hulle ’n wenk ontvang het dat die Nigeriër na bewering in die Lichtenburg-omgewings met dwelms smous. Die polisie het die twee toe in ’n lokval gelei met ’n kamma-transaksie van R40 000 se dwelms.

Die dwelms waarop beslag gelê is. Foto verskaf

Beamptes het tydens die optrede op 649 mandraxtablette, 40 pakkies tik en deurskynende plastiekhouers vol CAT  beslag gelê.

Toe die polisie die buitelander se woonplek deursoek, het hulle op nog dwelms afgekom, waaronder R15 000 se tik en R6 000 se CAT. Hulle het daarop beslag gelê as bewysstukke.

Die Suid-Afrikaanse vrou, wat blykbaar in ’n liefdesverhouding met die Nigeriër is, wou na bewering die polisie omkoop om sy vrylating te verseker. Sy word aangekla van korrupsie.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.