Central SA
Twee oudpolisiemanne van Vaalbank Kerstyd agter tralies ná reuse-rooftog─── MARIETJIE GERICKE 13:22 Thu, 19 Dec 2024
Twee gewese polisiebeamptes van Mpumalanga bly in aanhouding tot hulle weer einde Februarie voorkom nadat hulle glo ’n geldwa van amper R6 miljoen beroof het.
Zachariah Magopa, ’n gewese konstabel, en George Phaahla, ’n gewese sersant, het Woensdag (18/12) voorgekom in die landdroskantoor op Vaalbank, sowat 80 km noordoos van Pretoria, in verband met ’n kontant-in-transitorooftog van R5,8 miljoen in 2021.
’n Span bestaande uit die Valke van Middelburg, Mpumalanga, misdaadintelligensie se geheime eenheid en die blitspatrollie het die twee verdagtes (albei 41) op nuut in hegtenis geneem, sê lt.kol. Dineo Lucy Sekgotodi, Valke-woordvoerder.
Konstabel Zachariah Magopa and sersant George Phaahla. Foto verskaf
’n Onbekende aantal mans het ’n G4S-pantservoertuig destyds in die Senotlelo-gebied naby Marble Hall aangeval. Die dossier is na die Valke op Middelburg verwys vir verdere ondersoek, sê Sekgotodi.
Tydens die ondersoek is twee polisiebeamptes van Vaalbank as verdagtes geïdentifiseer. Uit verdere ondersoek het geblyk dat Phaahla ’n staatsvoertuig gebruik het om vuurwapens in Kwamhlanga op te laai, wat hy toe aan Magopa oorhandig het.
Dié vuurwapens is gebruik om die G4S-geldwa aan te val. Die polisie het ook beslag gelê op voertuie wat tydens die misdaad gebruik is.
‘Dit is van die rol geskrap is weens uitstaande forensiese verslae’
Albei beamptes het bekentenisse gemaak nadat hulle in hegtenis geneem is, sê Sekgotodi. Tydens die ondersoek is ’n groot hoeveelheid kontant by Magopa gekry.
Albei polisiebeamptes se eerste hofverskyning was op 11 Februarie 2021 in Vaalbank se landdroshof. Die derde verdagte, Bongumusa Jele, is by Kanyamazane in hegtenis geneem en sy naam was op die hofrol saam met die ander beskuldigdes geplaas.
Hulle het meermale voorgekom tot 25 Augustus 2021, toe dit van die rol geskrap is weens uitstaande forensiese verslae en die twee voormalige polisiebeamptes laat gaan is.
Zachariah Magopa, ’n gewese konstabel. Foto verskaf
Sekgotodi sê die ondersoek het voortgeduur en alle uitstaande inligting saam met die forensiese verslae is ontvang. Die dossier is na die NVG verwys, wat daartoe gelei het dat al drie verdagtes weer in hegtenis geneem is en die saak terug op die hofrol geplaas is.
Dinsdag (17/12) is Magopa met ’n J50-lasbrief by Siyabuswa aangekeer en in die Vaalbank-selle aangehou. Die volgende dag is Phaahla ook met ’n J50-lasbrief by sy werkplek opnuut in hegtenis geneem.
Hulle saak is tot 27 Februarie uitgestel, wanneer hulle sal voorkom saam met ’n verdagte wat in die gevangenis in Emalahleni aangehou word in verband met ’n ander transitorooftog.
George Phaahla, ’n gewese sersant. Foto verskaf
Luidens die polisie se misdaadsyfers is 64 kontant-in-transitorooftogte in die tweede kwartaal (Julie tot September) van 2020 uitgevoer, in dieselfde kwartaal was daar 52 in 2021, 56 in 2022, 64 in 2023 en slegs 40 in die tweede kwartaal vanjaar, 24 minder as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Die jongste syfer is die laagste die afgelope vier jaar. In die jongste oorsigtydperk het dié misdaad jaar-op-jaar afgeneem in die Oos-Kaap (elf gevalle minder), KwaZulu-Natal (drie), Mpumalanga (ses), Gauteng (veertien) en Limpopo (vier).
Toenames is aangemeld in die Vrystaat (vier meer), Wes-Kaap (drie) en Noordwes (een). In die Noord-Kaap is weer geen gevalle gerapporteer nie.