Central SA
Niemand nog vas ná aanval op Orkney-oordeienaar─── HEIDRÈ MALGAS 11:06 Thu, 19 Dec 2024
Die polisie het nog niemand in hegtenis geneem nie ná ’n aanslag op die lewe van ’n vakansieoordeienaar van Noordwes.
Marc Hanscombe (53) van Hanscombe Holiday Resort op Orkney is Maandag (16/12) met ’n skerp voorwerp gesteek, blykbaar nadat hy besoekers laatmiddag gelas het om die perseel te verlaat omdat hulle die reëls verontagsaam het, sê Sam Tselanyane, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Na bewering het ’n werker gesien hoe ’n groep besoekers ’n waterpyp rook wat verbode is in die oord. Hulle het hulle glo nie gesteur aan die werknemer se versoek om op te hou nie.
Hanscombe het hulle toe aangesê om die rokery te staak en aangebied om die waterpyp ontvangs toe te neem waar hulle dit sou kon afhaal wanneer hulle vertrek.
’n Bakleiery het ontstaan toe ’n lid van die groep aggressief raak en Hanscombe na bewering te lyf gegaan het. Hy is in die rug gesteek en inderhaas hospitaal toe geneem.
Ná die petalje het vier van die vermeende aanvaller se medebesoekers polisiekantoor toe gegaan om ’n saak van aanranding teen Hanscombe aanhangig te maak. Later is die slagoffer se seun ook na die polisiekantoor om ’n saakdossier te registreer.
’n Video van die voorval op sosiale media wys hoe Hanscombe en ’n groep mans baklei, terwyl vroue tussenbeide probeer tree om die vrede te herstel. Blykbaar wys die video ook hoe iemand ’n mes te voorskyn bring en Hanscombe oënskynlik twee maal in die rug steek.
Petrus Sithole, ’n aktivis teen geweld en plaasmoorde, sê hy het met Hanscombe se seun oor sy pa se toestand gepraat wat gesê het hy het nie veel inligting om te deel nie, aangesien dit ’n ontwikkelende saak is.
Die voorval word nog ondersoek.
OFM Nuus dg