Central SA
Bloemfonteinse kleuter sterk goed aan ná redding uit put─── MARIETJIE GERICKE 15:32 Wed, 18 Dec 2024
’n Driejarige wat 8 m ver in ’n ongebruikte boorgat buite Bloemfontein geval het, sterk steeds in die Pelonomi-streekhospitaal aan.
Hoewel klein Mpho Pienaar kopbeserings opgedoen het die ongeluk Vrydagmiddag (13/12), vertel sy ouers hy het sy kognitiewe vermoë behou en kan hy byvoorbeeld praat
Mpho is die seun van Butiki Machogo, ’n plaaswerker van die plaas Onverwacht, en sy vervreemde vrou, Meisie Pienaar, wat elders woon, sê Mondli Mvambi, Vrystaatse gesondheidswoordvoerder. Die plaas is sowat 30 km wes van Bloemfontein in die Bainsvlei-gebied.
“Mpho se toestand is steeds kritiek, maar hy is stabiel,” sê Mvambi. “Hy reageer op spel en sy kognitiewe vermoëns is nie aangetas nie, hoewel hy kopbeserings opgedoen het. Hy is ook nou van die suurstof afgehaal en haal self asem.”
Ure lange gespook
Volgens hom kry die kleuter “topklasspesialis- neurologiese behandeling in Pelonomi. Mpho is aanvanklik as ’n vlak 1-voorkeurpasiënt geklassifiseer, so ernstig was sy toestand.
Instansies wat by die uitdagende reddingsoperasie betrokke was, is Mangaung se brandweer, Vrystaatse nooddienste, en Search and Rescue ZA (Sarza).
Die put waarin Mpho geval het, is 230 mm wyd by die bopunt. “Die kind het Vrydag omstreeks 13:00 ingeval, en ná ’n soektog het kinders aan sy pa gesê dat hy in die put geval het, waar hy om 19:00 met die hulp van ’n flitslig gesien is.”
Die ongeluk is om 21:15 aan die nooddienste gerapporteer en Mpho is na ’n ure lange gespook deur die nag die volgende oggend 05:30 uit die put gehaal.
Mpho is ná ’n ure lange gespook deur die nag die volgende oggend 05:30 uit die put gehaal. Foto verskaf
“Ons is baie dankbaar vir die professionalisme van al ons nooddienstepersoneel in die openbare en private diens,” sê Mvambi. “Ons is ook dankbaar dat daar geen sekondêre walle was wat ingestort het terwyl die nooddienswerkers die … delikate reddingsoperasie uitgevoer het nie.”
Monyatso Mahlatsi, Vrystaatse LUR vir gesondheid, is aangegryp deur die noodreddingsoperasie. Hy wil almal gelukwens met die noodreddingsoperasie en wens Mpho ’n spoedige herstel toe.
Machogo sê hy is geweldig bly oor die vordering wat sy kind maak. “'Ons weet nog nie wanneer hy uit die hospitaal ontslaan gaan word nie, maar hy sal in die toekoms by sy tannies in die township gaan woon en volgende jaar na ’n crèche gaan.”
‘Al wat sigbaar was, was die bokant van sy kop en sy hande bo-op die koppie’
Hentie van Vuuren, van Mangaung se brandweer-en-reddingsdiens, wat ’n groot aandeel gehad het in klein klein Mpho se redding, sê sy kollega Nick Allen was die insidentbevelvoerder op die toneel, wyl Julius Fleischman van Vrystaatse noodreddingsdienste ook op die toneel was.
Personeel van Sarza en die Vrystaatse ambulans-en-reddingsdiens was saam met die reddingspersoneel van die Mangaung-metro teenwoordig, vertel Van Vuuren.
“Ons het die pa gekry en met die nodige beligting afgekyk in die boorgat, waar ons Mpho sowat 8 meter (diep) gesien het waar hy in ’n baie ongemaklike posisie vasgesit het. Al wat sigbaar was, was die bokant van sy kop en sy hande wat bo-op die koppie was.”
Die put waarin Mpho geval het, is 230 mm wyd by die bopunt. Foto verskaf
Van Vuuren sê hulle het met reddingstou en noodgereedskap probeer om die kind se hande op ’n manier te gryp om te verseker dat hy hom nie self beseer deur verder in die boorgat af te val nie.
“Ons het ook geskikte toerusting gebruik om vir hom suurstof af te stuur. Ná baie ure en baie onsuksesvolle probeerslae is daar in die vroeë oggendure daarin geslaag om die kind se linkerarm se gewrig en hand in ’n toulus vas te vang en om hom so te beveilig. So is gekeer dat hy verder in die boorgat afval.”
Daar is ook besluit om die ander arm en hand ook in dieselfde posisie met tou en lus vas te vang en te beveilig. ’n Boorgatspesialis het toe raad gegee dat hulle ’n oplossing van water en skottelgoedseep langs die pasiënt moet laat inloop.
’n Horisontale gat is met elektriese gereedskap gegrou tot waar Mpho op 50 cm sigbaar was. Foto verskaf
“Die manne van Sarza het ’n kommunikasie-teleskopiese-maspaal beskikbaargestel. Dit is ook gebruik om die water- en skottelgoedseepmengsel rondom die pasiënt te laat inloop. “
Ons het met baie versigtigheid besluit om eers die linker- en dan die regterarm te trek,” vertel Van Vuuren.
“Die reddingspan het ook eers almal ’n gebedskring gevorm met al die reddingswerkers op die toneel, want ons het geweet dat ons ook die Skepper se hulp hier nodig het. Ons was bekommerd dat die pasiënt verder in die boorgat kon val.”
Instansies wat by die reddingsoperasie betrokke was, is Mangaung se brandweer, Vrystaatse nooddienste, en Search and Rescue ZA (Sarza). Foto verskaf
Daarna is eers die linkerarm en toe regterarm opgetrek, maar die bene het toe in ’n ongemaklike posisie vasgesteek. Hulle het hom ’n entjie laat terugsak om die bene te bevry en hom toe opgehys.
Maar die laaste 2,5 m het probleme veroorsaak omdat die gat daar net 23 cm breed is, sê Van Vuuren. “Ons het toe ’n derde tou afgestuur en hom met ’n lus om die lyfie beskerm.
Foto verskaf
“Toe het ons ’n 25 cm-besproeiingspyp se eenkant oopgesny en dit om die reddingstou gesit en die pyp afgestuur om seker te maak die grondformasiestruktuur hou en dat die kind beveilig word.”
Intussen het hulle langsaan ’n laterale gat tot op 3 m gegrou met ’n 20 t-graafmasjien wat boere van die omgewing beskikbaargestel het. “Daar is toe ’n horisontale gat na die boorgatskag met elektriese gereedskap gegrou tot waar Mpho op 50 cm sigbaar was. Die opening is toe vergroot – en hy is opgetrek.”
Van Vuuren het self Dinsdag (17/12) vir Mpho in die hospitaal gaan kuier om te kyk hoe dit gaan.