Central SA
Noodspanne ontplooi ná kragonderbreking by Maselspoort─── HEIDRÈ MALGAS 10:49 Tue, 17 Dec 2024
In reaksie op ’n beduidende kragonderbreking in die Maselspoort-gebied is noodreaksiespanne na die waterbehandelingsaanleg ontplooi.
Die onderbreking vroeg Dinsdagoggend (17/12) het gelei tot ’n totale stilstand van Bloemfontein se watervoorsiening in party gebiede.
“Pogings is aan die gang deur ’n bekwame span tegnici wat werk om die bron van die onderbreking te identifiseer en so vinnig moontlik krag te herstel,” sê Lele Mamatu, Centlec-woordvoerder.
Centlec onderneem om inwoners op die hoogte te hou deur gereelde opdaterings en die verwagte hersteltyd onmiddellik bekend te maak sodra dit met sekerheid voorspel kan word.
“Inwoners in die geraakte gebiede word versoek om geduldig te bly terwyl spanne onverpoos werk om die probleem op te los. Centlec betuig sy spyt oor die ongerief wat veroorsaak word deur die onderbreking in water – sowel as kragvoorsiening.”
Inwoners word aangeraai om water uiters spaarsaam te gebruik en die media en sosiale media dop te hou vir die jongste verwikkelings.
Die Mangaung Maselspoort-waterbehandelingsaanleg. Foto: Facebook
Intussen sê Mangaung-metro hy gaan pogings opskerp om die voortdurende waterkrisis in Bloemfontein die hoof te bied.
Knaende wateronderbrekings wat die laaste weke midde-in ’n hittegolf vererger het, plaas die metro se langdurige uitdagings met verouderde infrastruktuur opnuut in die soeklig.
Pieter Lotriet, DA-raadslid, is een van talle belanghebbendes wat munisipale amptenare kritiseer vir jare se nalatigheid. Hy sê herhaalde waarskuwings en voorgestelde oplossings om die metro se wankelende waterinfrastruktuur reg te ruk, is eenvoudig geïgnoreer.
Die opposisie in Mangaung is ook aktief betrokke by ’n ondersoek van die Menseregtekommissie na Bloemfontein se voortslepende waterprobleme.
‘Ernstige finansiële wanbestuur aan die lig gebring’
Die uitslag van die ondersoek wat pas uitgereik is, werp lig op die uitgebreide probleme waarmee die munisipaliteit te kampe het.
Die DA se onlangse omvattende oorsigbesoek aan Maselspoort het volgens dié party ernstige finansiële wanbestuur aan die lig gebring. Kritieke finansiering bly onaangeraak, vererger waterkrisisse en dwing mense om op verouderde infrastruktuur staat te maak.
OFM Nuus dg