On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Polisie ondersoek oorsaak van botsing by Koppies

───   KEKELETSO MOSEBETSI 11:46 Tue, 10 Dec 2024

Polisie ondersoek oorsaak van botsing by Koppies | News Article
Foto: Skermgreep

Die Vrystaatse polisie stel ondersoek in na die oorsaak van ’n botsing tussen ’n bus, vragmotor en motor op die N1 in die Noord-Vrystaat waarin sewe mense beseer is.

Nooddienste is vroeg Dinsdagoggend (10/12) na die toneel op die N1 suid van Koppies in die Rooiwal-gebied ontbied, sê kol. Loraine Earle Vrystaatse polisiewoordvoerder. Van die sewe beseerdes is twee ernstig beseer en vyf gering.

Die afgelope naweek het 23 mense hul lewe in ses ongelukke op Vrystaatse paaie verloor. Drie is in die hospitaal opgeneem met beserings.

Die dodelikste botsing was op die N1 tussen Heuningspruit en Koppies toe ’n minibus met elf passasiers teen ’n vragmotor gebots het. Tien mense het gesterf; net een passasier en die vragmotorbestuurder het oorleef. Uitputting en moontlike meganiese wanfunksie van die vragmotor het blykbaar ’n rol gespeel.


“Die owerheid doen intussen ’n beroep op alle motoriste om dié somervakansie op hul hoede te wees en verkeersreëls na te kom om nog lewensverlies te voorkom.”

Barbara Creecy, minister van vervoer, betuig haar meegevoel met die naasbestaandes van die oorledenes en pleit by padgebruikers om veral nou meer waaksaam te wees.

Jabu Mbalula, waarnemende Vrystaatse premier, betuig ook simpatie en wens die beseerdes ’n spoedige herstel toe. “Die tragedies wat 20 lewens binne so ’n kort tydperk op ons provinsiale paaie geëis het, is uiters teleurstellend. Elke lewe wat op ons paaie verloor word, is een te veel.”

Hy sê dis dringend belangrik dat bestuurders en voetgangers ag slaan op die padreëls. “Ons kan skaars genoeg beklemtoon hoe belangrik padveiligheid is. Elke bestuurder en voetganger moet padreëls gehoorsaam en deurentyd versigtig wees.

“Dis al manier om sulke tragedies te voorkom en te verseker ons kom veilig by ons bestemmings aan.”

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.