On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Onlangse botsings in Vrystaat eis meer as 20 lewens

───   HEIDRÈ MALGAS 11:58 Mon, 09 Dec 2024

Onlangse botsings in Vrystaat eis meer as 20 lewens | News Article
Die eerste ongeluk het Vrydagaand (6/12) op die N3 naby Balmoral n die Oos-Vrystaat plaasgevind. Foto Facebook

Die Vrystaatse regering sê al manier om dié feestyd ’n padslagting te voorkom, is deur padreëls te gehoorsaam en medepadgebruikers te respekteer.

Drie-en-twintig mense het hul lewe in ses afsonderlike, noodlottige padongelukke verloor, terwyl drie beseerdes in die hospitaal opgeneem is. In die jongste voorval is een sterfte Maandagoggend (9/12) aangemeld op die pad tussen Brandfort en Theunissen, sê Mondli Mvambi, gesondheidswoordvoerder.

Die eerste ongeluk het Vrydagaand (6/12) op die N3 naby Balmoral in die Oos-Vrystaat plaasgevind. Nooddienste is na die toneel van ’n trompop botsing tussen ’n motor en ’n swaar vragmotor ontbied.

Alle insittendes van die motor, saam met die vragmotorbestuurder, is op slag dood, sê Mvambi. Altesaam ses mense, onder wie ’n kleuter, het hul lewe verloor, terwyl een insittende met geringe beserings na die Thebe-hospitaal op Harrismith gebring is.


Saterdag (7/12) is ’n noodlottige ongeluk aangemeld toe ’n motorfietsryer op die ou Brandfortpad naby Winburg in ’n koei vasgery het. Hy is op slag dood.

Later die aand het noodspanne gereageer op ’n noodlottige ongeluk op die R30 tussen Allanridge en Odendaalsrus waar twee dubbelkajuitbakkies kop-aan-kop gebots het. Onder die slagoffers was ’n meisie (9), wat op slag dood is, en twee mans, wat met hul aankoms by die hospitaal aan hul beserings beswyk het.


Die naweek se dodelikste botsing was op die N1 tussen Heuningspruit en Koppies toe ’n minibus met elf passasiers teen ’n vragmotor gebots het, sê Mvambi. Tien mense het beswyk, terwyl net een passasier en die vragmotorbestuurder oorleef het. Voorlopige ondersoeke wys bestuurdersmoegheid en moontlike meganiese wanfunksie van die vragmotor het ’n rol gespeel.

Die regering doen ’n beroep op alle motoriste om die Kerstyd waaksaam te wees en verkeersreëls na te kom om nog verlies op die paaie te voorkom.

Jabu Mbalula, waarnemende premier, betuig meegevoel met die oorledenes se naasbestaandes en wens die beseerdes ’n spoedige herstel toe. “Die tragedies wat 20 lewens binne so ’n kort tydperk op ons provinsiale paaie geëis het, is uiters teleurstellend. Elke lewe wat op ons paaie verloor word, is een te veel.”

Die wrak van die taxi ná die N1-ongeluk. Foto: Facebook

Mbalula beklemtoon dis dringend belangrik dat bestuurders en voetgangers die padreëls gehoorsaam. “Ons kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik padveiligheid is nie. Elke bestuurder en voetganger moet die reëls van die pad respekteer en te alle tye versigtig wees.

“Dit is die enigste manier om sulke tragedies te voorkom en te verseker ons kom lewend by ons bestemmings aan.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.