Central SA
Integriteit van Mangaung-tronkbewaarders onder loep ná smokkelvonds─── KEKELETSO MOSEBETSI 12:00 Fri, 29 Nov 2024
Beamptes van die berugte Mangaung- Korrektiewe Sentrum in Bloemfontein is weer in die soeklig ná ’n klopjag Donderdag (28/11) waarin ’n verskeidenheid smokkelgoed gevind is.
Tydens die klopjag het beamptes van korrektiewe dienste beslag gelê op onder meer kontant, dagga, USB-kabels, laaiers, sigarette, tabak en selfone. Die optrede maak deel uit van ’n jaarlikse feestydveldtog om veiligheid in korrektiewe instellings op te skerp, sê Makgothi Samuel Thobakgale.
“Hierdie veldtog verseker dat ons korrektiewe instellings veilig is vir oortreders, beamptes en die publiek, onder wie gesinne, vriende en vennote wat gedurende die feestyd besoek aflê.”
Hy belowe beamptes gaan deeglik te werk. “Ons deursoek elke hoek, insluitend areas wat geïdentifiseer word as kwesbaar vir oortreders of beamptes wat betrokke kan wees by onwettige aktiwiteite. Ons gryp in waar ons wenke kry oor spesifieke plekke of individue.”
Tydens die veldtog word ook ondersoek ingestel om seker te maak paroolgangers kom voorwaardes na, sê Thobakgale, ter wille van gemeenskapsveiligheid, veral dié tyd van die jaar wanneer misdaad toeneem. “Korrektiewe dienste sal nou saamwerk met die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe om te verseker dat Suid-Afrikaners sowel as toeriste veilig bly,” beloof hy.
Die Mangaung- Korrektiewe Sentrum het in die verlede kwaai onder skoot gekom weens gebrekkige veiligheid en beweerde korrupsie onder die personeel.
In Mei 2022 het dit wyd berug geraak ná die opspraakwekkende ontsnapping van Thabo Bester, ’n veroordeelde moordenaar en verkragter. Bester het voorgegee om te sterf deur die verbrande liggaam van Katlego Bereng in sy sel te laat plaas.
Die voorval het ernstige gebreke in die instelling se veiligheidstelsel aan die lig gebring asook beweerde sameswering tussen beamptes en die private maatskappy wat die fasiliteit bestuur, G4S.
Verlede jaar het ’n gevangene sy eie lewe geneem toe hy na sy dood gespring het.