Central SA
Buitelanders steeds agter tralies in Noordwes weens sigarette─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:45 Tue, 26 Nov 2024
Die twee buitelanders wat met meer as R1 miljoen se onwettige sigarette aangekeer is, sal na verwagting Donderdag (28/11) om borgtog aansoek doen.
Die verdagtes, wie se name nie bekendgemaak is nie, het Maandag (25/11) voor die Ventersdorp-landdroshof verskyn nadat hulle Vrydag (22/11) tydens ’n misdaadintelligensie-operasie in hegtenis geneem, sê kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder.
Die operasie is uitgevoer deur die Potchefstroomse misdaadintelligensie, Potchefstroomse blitspatrollie en Ventersdorp se sigbare polisiëring.
Die geraamde waarde van die sigarette is R1,6 miljoen. Foto verskaf
Volgens Funani het die Ventersdorp-span ’n wenk ontvang oor ’n verdagte Volvo-vragmotor wat van Rustenburg na Gauteng ry.
“Op grond van hierdie inligting het die polisie die vragmotor op die R30 opgemerk. Die voertuig is toe voorgekeer vir ondersoek. Tydens die soektog het beamptes 124 bokse ontdek, elk met 50 kartonne Remington Gold-sigarette daarin met ’n geraamde waarde van R1,6 miljoen.”
Funani sê die verdagtes (47 en 50) is in hegtenis geneem nadat hulle versuim het om ’n aanvaarbare verduideliking vir hul besit van die sigarette te verskaf.
Tydens die soektog het owerhede 124 bokse ontdek, elk met 50 kartonne sigarette. Foto verskaf
Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, loof die eenhede vir hul suksesvolle samewerking in die bekamping van onwettige ekonomiese aktiwiteite.
Die ondersoek duur voort onder leiding van die Valke.
Bel Stop Misdaad by 08600 10111 of gebruik die MySAPS-app om misdaad anoniem aan te meld. Afpersingverwante voorvalle kan by die afpersingblitslyn by 080 091 1011 aangemeld word.
OFM Nuus cg/mc