Central SA
Toestand van Vrystaatse museums wek kommer – DA─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:30 Tue, 26 Nov 2024
Verskeie museums in die Vrystaat is in ’n kritiek verslegtende toestand.
Onlangse inspeksies van verskeie museums het die dringende behoefte aan instandhouding, opdatering van uitstallings en personeelopleiding aan die lig gebring, sê Werner Pretorius, Vrystaatse DA-woordvoerder oor sport, kuns, kultuur en ontspanning.
“Hierdie museums behoort as ’n baken van die provinsie se ryk geskiedenis en kultuur te dien, maar in plaas daarvan verval hulle.”
Volgens Pretorius het besoeke aan verskeie terreine – insluitend die Dingolweng SeSotho-letterkundemuseum, die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum, die Ou Presidensiemuseum en die Waaihoek-wêrelderfenisgebied – ’n aantal kommerwekkende kwessies aan die lig gebring.
Die Waaihoek Wêrelderfenisgebied. Foto verskaf
“Baie inligtingsborde by hierdie museums was óf moeilik leesbaar óf het heeltemal ontbreek. Daarbenewens (heers) ’n wydverspreide gebrek aan inligting oor hierdie fasiliteite, en verskeie van hulle word beman deur individue met onvoldoende kwalifikasies.”
DA het ’n versoekgerig aan die voorsitter van die portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur om self die museums te besoek.
“Die departement se begroting moet die instandhouding, toeganklikheid en bevordering van hierdie terreine prioritiseer om ons toeristesektor te verbeter en te verseker dat ons gemeenskaplike erfenis bewaar en gevier word.
Die Ou Presidensiemuseum. Foto verskaf
Hy sê die verbetering van hierdie terreine kan veral kleiner dorpe soos Philippolis, Smithfield, Winburg, Brandfort en Qwaqwa waar sommige van die museums geleë is, bevoordeel deur toeriste te lok.
Pretorius beklemtoon die DA bly daartoe verbind bly om die regte van Suid-Afrika se uiteenlopende tale en kulture te beskerm terwyl die land se kollektiewe geskiedenis beskerm word.
“Ons moet verseker dat ons museums nie net oorleef nie, maar floreer, sodat toekomstige geslagte die diepte en rykdom van ons verlede kan ervaar,” sê Pretorius.
OFM Nuus mc