On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Die kat kom weer – ná dae lange soektog in Bloemfontein

───   ZENANDE MPAME 06:30 Tue, 26 Nov 2024

Die kat kom weer – ná dae lange soektog in Bloemfontein | News Article
Die kat kom weer, ná dae lange soektog in Bloemfontein. Foto verskaf

’n Bloemfonteiner wat ’n kat help opspoor het wat op pad tussen Kaapstad en Pretoria losgekom het, sê as katliefhebber sal sy nooit huiwer om een van dié troeteldiere in die nood te help nie.

Iemand het op Facebook laat weet dat ’n huiskat haar harnas afgeruk het nadat die mense wat haar vervoer het, in Bloemfontein stilgehou het om te oornag. Laura Botha (60) het dadelik aangebied om die verlore kat by die gastehuis en in die woonbuurt Bayswater te help soek.

Die mense wat vir Mamma Bear verantwoordelik was, het haar eienaar, Bernadette Swart, laat weet dat sy Dinsdagaand (19/11) weggehol het, maar hulle haar nêrens kon kry nie.

Swart het besluit om haar te wend tot ’n Facebook-katgroep omdat sy niemand in Bloemfontein ken nie.

Die Facebook-inskrywing om te help soek. Foto: Facebook/Kat Kaskenades

Botha vertel nadat sy gemerk is in ’n Facebook-inskrywing om te help soek, het sy summier in haar motor geklim en na die straat gery waar die kat laas gesien is om vertroud te raak met die omgewing.

“Ek dink die grootste ding wat bygedra het tot haar opsporing binne drie dae, was die plakkate en die feit dat ek letterlik van huis tot huis gegaan het en met elke inwoner gepraat en vir hulle vertel het ons soek hierdie tipe kat.”

Self Donderdag se swaar reën kon Botha nie van stryk bring nie, want ná werk het sy haar gesin kos gegee, warm klere aangetrek en haar soektog na Mamma Bear hervat.


Sy het weer Champagnestraat in haar motor gefynkam en ’n vrou teëgekom wie se huis langs die plek is waar Mamma Bear eindelik gevind sou word. “Mamma Bear se ma het vir my stemboodskappe gestuur en ek het ’n luidsprekertjie gevat en dit oor en oor gespeel terwyl ek straataf gery het. Daardie aand het honde my amper gebyt.”

“Vrydagoggend om 04:00 was ek weer op en in die straat om na haar te roep. Dis toe dat ek ’n fyn gemiaau gehoor het. Ek het geweet dit is sy, maar toe moes ek eers ry weens ’n noodgeval. Toe ek later daardie middag by die huis kom om te rus, het iemand gebel om te sê dat sy gewaar is.”

Die liefdevolle katma sê sy dink sy het skoon van die bed afgeval van haas, maar het vinnig katkos, ’n harnas, ’n boks en ’n kombers gaan haal en reguit na daardie adres gery.

Mamma Beer toe sy onder die dak weggekruip het. Foto verskaf

Mamma Bear is onder die dak gevind en Botha het Swart se stemnota gespeel terwyl dié op pad van Pretoria af was om na haar te kom soek.

Die huiseienaar het die hele middag na haar omgesien, en toe Swart opdaag, het sy eers met haar gesels, maar 10 minute later was Mamma Bear knus in haar ma se hemp opgevou.

Gevra waarom sy dit alles gedoen het, sê Botha: “Ek is ’n katma van drie en ek sal altyd my bes doen om ’n kat in nood te help. ’n Ma wat werklik ongelooflik lief is vir haar kat, het my net gemotiveer om daardie ekstra myl te loop om seker te maak sy kom by die huis.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.