On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Sishen-gholfklub mik hoër onder 10 voorstes landwyd

───   HEIDRÈ MALGAS 14:17 Mon, 25 Nov 2024

Sishen-gholfklub mik hoër onder 10 voorstes landwyd | News Article
Dié Sishen-gholfbaan is negende op ’n lys van 30 indrukwekkende bane landwyd. Foto: coasite.com

Die Sishen-gholfklub by Kathu hoop om die ranglys te klim wanneer Golf Digest sy volgende gradering doen.

Dié gholfbaan is negende op ’n lys van 30 indrukwekkende bane landwyd en die enigste in Sentraal-Suid-Afrika. Gholfdirekteur Theunis Spangenberg sê sedert die baan onder die toptien tel, lok dit veel meer toeriste.

“Kathu is uniek; elke putjie is so te sê op sy eie geleë. By ander bane vind jy twee gate lê sigbaar langs mekaar, maar hier, wanneer plantegroei ruig langs die skoonveld staan, is dit net die putjie wat jy speel wat te siene is.

“Ons het die grond effens skoongemaak om die baan makliker te maak vir die deursnee-speler,” sê Spangenberg.

Volgens Golf Digest het die Sishen-gholfklub ’n merkwaardige baan, al word dit oortref deur swaargewigte soos Fancourt Montagu by George en Arabella buite Kleinmond, en die sogenaamde koning van bane, Leopard Creek in Mpumalanga.

Volgens Golf Digest het die Sishen-gholfklub ’n merkwaardige baan. Foto: coasite.com

“Die feit dat dit so ontwerp is om elke kameeldoringboom, wat nie verwyder mag word nie, te behou, is baie spesiaal. Dit bring die bome in spel met bofhoue en naderhoue,” vertel hy.

Kalk in die water bied ’n groot uitdaging aangesien dit pype van die besproeiingstelsel vinnig laat verstop, wat beteken dit moet weekliks gediens word.

‘Elke putjie is uniek’

Elke Desember moet die baanbestuurder uiters bedag wees op temperature van oor die 40 °C, wat ’n groot rol speel. Gelukkig kom die reënseisoen nader. In Februarie, Maart, April en Mei is die baan op sy mooiste.

“Elke baan het gewoonlik ’n putjie of twee wat uitstaan. Sishen het 18 gate wat uitstaan; elke putjie is uniek.”

Emosies het hoog geloop toe die prestasie aangekondig is, vertel Spangenberg. “Ek, wat al 35 jaar lank lid is en hier as junior begin speel het, asook ons ouers wat altyd betrokke was, het dit as ’n groot eer ervaar. Ons baanbestuurder, Franco Vermeulen, werk onder Southern Turf Manager en dis sy span wat die eer moet kry. Hulle doen uitstekende werk.”

Elke baan het gewoonlik ’n putjie of twee wat uitstaan. Sishen het 18 gate wat uitstaan; elke putjie is uniek. Foto coasite.com

Hy meen die baan is op die regte koers. “Sedert ons in die toptien is, is daar baie belangstelling. Ons moet net aanhou om goeie diens te lewer en die beste produk moontlik aan te bied. Ons is baie trots op hierdie prestasie en mik net hoër vir volgende keer.”

Volgens Golf Digest is Sishen-gholfklub in 1980 deur Robert Grimsdell ontwerp en het dit vinnig een van die mees besonderse en afgeleë gholfbane in die land geword. Dis vyf uur se ry vanaf Johannesburg by die mynhoofdorp Kathu, wat die vorige jaar munisipale status verkry het.

Dis geleë op die rand van die Kalahariwoestyn in ’n antieke ruigte kameeldoringbome en bied ’n spesiale luuksheid buite die gebaande weë. Die baan is bekend vir sy unieke golwende setperke sowel as lewendige skoonvelde, omring deur digte bosse doringbome wat ’n pragtige kontras vorm met die hoë rooi sandduine, wat die eiendom omring.

Die baan het ’n moderne klubhuis en huise wat gehuur kan word.

OFM Nuus/Heidre Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.