Central SA
Kontrakteurs kry skuld vir nog ’n Welkom-kind se verdrinking─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:09 Mon, 25 Nov 2024
Matjhabeng se waarnemende burgemeester veroordeel kontrakteurs wat kinders se lewe in gevaar stel deur nie uitgrawings op te vul nie.
’n Tienerseun het Sondag (24/11) in ’n steengroef vol riool naby die Meloding-begraafplaas verdrink. Die polisie is omstreeks 11:00 na die toneel ontbied waar Pule Lithebe blykbaar saam met vriende geswem het toe hy in die moeilikheid beland, sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Polisieduikspanne is ontbied, maar weens die gesondheidsrisiko’s wat die riool inhou, moes munisipale werknemers eers die terrein dreineer. Die liggaam is eers 17:30 uit die slyk verwyder. Paramedici het die seun op die toneel dood verklaar.”
Die oorledene is uitgeken deur sy pa, Lefu Semenyane, wat in Sone 13, Meloding, woon.
Die plek waar die seun verdrink het, is blykbaar ’n pan wat deur kontrakteurs geskep is toe sand uitgegrawe is, maar wat hulle net so gelos het sonder om dit op te vul. Mettertyd het reën- en rioolwater opgedam, wat die pan in ’n gevaarlike swemplek vir kinders omskep het.
Hlobohang Mokhomo, waarnemende burgemeester, het na die toneel gegaan en amptenare opdrag gegee om saam met noodpersoneel en die polisie te werk om die liggaam te herwin, sê Tshediso Tlali, Matjhabeng-woordvoerder.
Mokhomo veroordeel die onveilige praktyke van kontrakteurs wat nie opgrawings opvul nie, wat inwoners se lewe in gevaar stel.
“Hierdie voorval is verwoestend vir die gemeenskap. Kontrakteurs wat sonder munisipale magtiging werk of gevaarlike terreine oop laat, moet aanspreeklik gehou word. Sulke praktyke stel inwoners, veral kinders, in groot gevaar,” sê Tlali.
Vroeë vandeesmaand het twee seuns in ’n watergevulde bouperseel in Welkom verdrink. Vaal-Sentraal-water het bevestig dat die betrokke kontrakteur ondersoek word. Die munisipaliteit het belowe om die Meloding voorval in sy breër ondersoek in te sluit.
Die munisipaliteit betuig meegevoel met die familie en vriende van die oorledene en belowe om aandag te skenk aan die oorsake van sulke voorvalle.
Thakeng rig intussen ’n streng waarskuwing aan kinders om nie te swem in groewe of gebiede gevul met riool nie. Dit hou gesondheidsrisiko’s in en kan lei tot onnodige sterftes.
Hy herinner ouers daaraan om deurentyd bewus te wees van waar hulle kinders is en waarmee hulle besig is.