On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende transitorowers in Heilbronse hof verwag

───   ZENANDE MPAME 06:00 Mon, 25 Nov 2024

Vermeende transitorowers in Heilbronse hof verwag | News Article
Twee buitelanders is aangekeer weens die besit van onwettige sigarette ter waarde van meer as R1 miljoen. Foto verskaf

Drie vermeende transitorowers sal na verwagting Maandag (25/11) in die Heilbron-landdroshof verskyn weens gewapende roof.

’n 42-jarige verdagte is Woensdag (20/11) in hegtenis geneem toe hy ’n uitkenningsparade in Zamdela bygewoon het vir nog ’n misdaad wat gepleeg is. Die polisie het hom herken en die Valke ingelig, wat hom positief uitgeken het.

Sy medebeskuldigdes, Sthembiso Buthelezi (39) en Fihlokwakhe Mdakane (42), is reeds in polisie-aanhouding ná hul inhegtenisneming in Johannesburg op Donderdag 17 Oktober.


“Die voorval was in September toe sekuriteitsbeamptes kontant by ’n drankwinkel in Heilbron afgehaal het en vier onbekende verdagtes die drankwinkel binnegegaan en hulle genader het,” sê Christopher Singo, woordvoerder van die Vrystaatse Valke.

“Die verdagtes het ’n onbekende bedrag geld en ’n vuurwapen gesteel voordat hulle in ’n VW Polo en ’n BMW gevlug het. Die saak is by die Valke aangemeld vir verdere ondersoek.”

Intussen sal twee buitelanders Maandag (25/11) na verwagting in die Ventersdorp-landdroshof verskyn weens die besit van onwettige sigarette ter waarde van meer as R1 miljoen.

Sigarette ter waarde van R1,6 miljoen is in ’n vragmotor ontdek. Foto verskaf

Die mans van Zimbabwe, tussen die ouderdomme 47 en 50 jaar, is Vrydag (22/11) in hegtenis geneem tydens ’n operasie gelei deur die Potchefstroomse polisie. Ventersdorp se sigbare polisiëringseenheid het inligting ontvang oor ’n Volvo-vragmotor wat van Rustenburg na Gauteng onderweg was.

“ ’n Opvolg is gemaak en die vragmotor is opgemerk en langs die R30-pad gestop vir ondersoek,” sê Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes.

“Tydens die soektog het die polisie 124 bokse met 50 kartonne Remington-goudsigarette ter waarde van R1,6 miljoen in die vragmotor ontdek. Die verdagtes is gearresteer omdat hulle nie verantwoording kon doen vir die besit van hierdie sigarette nie.”

‘Die polisie het twee vuurwapens en ammunisie ontdek’

Nog ’n Ethiopiese buitelander (27) sal Maandag (25/11) na verwagting in die Brits-landdroshof verskyn vir die besit van twee ongelisensieerde vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en die oortreding van die Immigrasiewet.

Die Hartbeespoortdam-polisie het inligting ontvang oor 'n winkeleienaar wat ongelisensieerde vuurwapens by sy winkel in ’n informele nedersetting in Schaumburg aangehou het. “Die winkel is Donderdag (21/11) deursoek en die polisie het twee vuurwapens en ammunisie in die agterkamer ontdek,” het Funani gesê.

“Daar is verder ontdek dat die verdagte onwettig in die land was en onwettige dokumente gebruik wat aan ’n 65-jarige man behoort.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.