Central SA
Kovsies verwelkom eerste vroueprinsipaal – prof. Hester Klopper─── 10:44 Sat, 23 Nov 2024
Die raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het die Kovsies se eerste vroueprinsipaal aangekondig, prof. Hester Klopper.
Haar aanstelling as visekanselier en prinsipaal is goedgekeur tydens die raadsvergadering Vrydag (22/11) op die Bloemfontein-kampus.
“Namens die UV-raad wens ek prof. Klopper geluk en verwelkom ek haar hartlik by die universiteit. Ek sien daarna uit om saam met haar te werk. Prof. Klopper se akademiese uitnemendheid en wêreldwye erkenning, leierskap en strategiese visie, verbintenis tot transformasie en inklusiwiteit, ervaring in finansiële rentmeesterskap en institusionele vooruitgang, fokus op gesondheid en welstand, innovasie en navorsingsimpak, posisioneer haar uniek om die UV te lei.
“Die universiteit is gelukkig om só ’n uitstaande kandidaat te kan aanstel,” sê David Noko, voorsitter van die UV-raad.
David Noko, voorsitter van die UV-raad.
In ’n vooraanstaande loopbaan wat oor 30 jaar strek, het Klopper haar toegewy aan die bevordering van hoër onderwys, en dien sy as ’n wêreldwye akademiese leier, ’n bekwame uitvoerende, gepubliseerde skrywer, vaardige openbare spreker en ervare navorser, sê die UV.
Oor ’n kwarteeu het sy haar bekwaamheid en vaardighede in leierskap en bestuur binne die akademie en nieregeringsorganisasies en organisasies sonder winsoogmerk opgeskerp en ’n magdom ervaring opgedoen.
‘Saam sal ons voortbou aan hierdie wonderlike instelling’
“Ek voel nederig en diep geëerd deur die geleentheid om as visekanselier en rektor van die Universiteit van die Vrystaat te dien. Die UV speel ’n deurslaggewende rol in die vorming van die toekoms van Suid-Afrika, ook deur sy verbintenis tot akademiese uitnemendheid, sosiale geregtigheid en transformerende leierskap.
“Ek sien uit daarna om met die hele UV-gemeenskap – die raad, personeel, studente, alumni en vennote – saam te werk om die universiteit te bevorder. Saam sal ons voortbou op die sterk fondament van hierdie wonderlike instelling, wat inklusiwiteit, innovasie en impak bevorder.”
Klopper het haar hoëronderwysreis begin met ’n algemene verpleegkunde-en-verloskunde-kwalifikasie in 1985, gevolg deur nog agt kwalifikasies tussen 1986 en 2016, insluitend ’n Ph.D. van die Universiteit van Johannesburg, ’n M.B.A. van die Universiteit van Luton in die Verenigde Koninkryk en ’n eredoktorsgraad van Oxford Brookes-universiteit in die Verenigde Koninkryk.
Hester Klopper het in 2016 ’n eredoktorsgraad in Verpleegkunde verwerf aan die Oxford Brookes-universiteit in die Verenigde Koninkryk. Hier is sy by haar man, Willie Klopper. Foto: Facebook
Sy dien nou as adjunk-visekanselier: strategie, globale en korporatiewe sake aan die Universiteit Stellenbosch (US). Vanaf toesig oor strategie en internasionalisering toe sy in Augustus 2016 aan die US aangestel is, het haar portefeulje vinnig uitgebrei om inligtingsbestuur, besigheidsintelligensie en dataontleding, korporatiewe kommunikasie en bemarking, en studentewerwing in te sluit.
In hierdie belangrike rol het sy die huidige institusionele strategie, Visie 2040 en Strategiese Raamwerk (2019–2024), die strategiese groei en aansienlik verhoogde internasionale betrokkenheid gelei, wat die US se wêreldwye prominensie verhoog het deur vennootskappe met akademiese instellings en netwerke wêreldwyd.
Haar leierskap en bestuur strek verder as die akademie. Sy het gedien as voorsitter en uitvoerende hoof van die Forum van Universiteitsverpleegdekane van Suid-Afrika (Fundisa) en het uitgebreide ondervinding in die bestuur van nieregeringsorganisasies en dié sonder winsoogmerk opgedoen. Daarbenewens het sy in talle direksies gedien en een van die wêreld se grootste internasionale verpleegorganisasies gelei, met ’n ledetal van meer as 135 000 in 95 lande.
Tydens haar presidensiële ampstermyn is aansienlike wêreldwye uitbreiding bereik deur die Global Advisory Panel on the Future of Nursing and Midwifery. In uitvoerende rolle in organisasies sonder winsoogmerk het sy haar kundigheid in organisatoriese bestuur, strategie-uitvoering, geldinsameling en betrokkenheid van belanghebbendes bevorder.
‘Ek sal aanhou om ’n voorstander van innovasie en groei’
“Gedryf deur ’n passie om die toekoms te vorm deur onderwys, ontwikkeling en diens, gerugsteun deur my geskiedenis van visioenêre leierskap, sal ek aanhou om ’n voorstander van innovasie en groei in hoër onderwys en die beroep te wees,” het sy in haar aansoek gesê.
Klopper sal die 15de visekanselier en prinsipaal van die UV wees, asook die eerste vrou in dié amp. Sy neem die leisels oor by prof. Anthea Rhoda, wat sedert September waarneem.
OFM Nuus cg