Central SA
Vrystaatse mans gevonnis ná gholfklub-aanranding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 06:30 Fri, 22 Nov 2024
Twee mans van die Vrystaat is tronkstraf opgelê nadat hulle aan aanranding skuldig bevind is.
Rudi Gericke (39) en Kleinjan le Grange (35) is Dinsdag (19/11) deur die Ficksburg-streekhof gevonnis, meer as twee jaar nadat hulle Morgan Barrett (45) en ander inwoners aangerand het, sê sers Mmako Mophiring, ’n polisiewoordvoerder.
Die voorval het op 6 Augustus 2022 by die plaaslike gholfklub plaasgevind, ná ’n rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks.
Volgens Mophiring is Barrett, ’n plaaslike boer en voormalige voorsitter van die gebied se boerevereniging, aanvanklik met die vuis geslaan. “Toe hy op die grond val, het Gericke en Le Grange die aanranding voortgesit deur hom te skop.”
Skuld beken op al die aanklagtes
Gericke het tereggestaan op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, twee aanklagte van eenvoudige aanranding, een aanklag van opsetlike saakbeskadiging en een aanklag van crimen injuria.
Le Grange is verhoor op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, een aanklag van gewone aanranding en een aanklag van opsetlike saakbeskadiging.
Gericke dien reeds tronkstraf uit by die Kroonstad-gevangenis, nadat hy in April vanjaar in dieselfde hof tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is vir die moord op Evan Sorour (28), ’n jong boer van Ficksburg, asook die aanranding van sy pa, Reuter Sorour (58), met die doel om ernstige besering te veroorsaak.
Die wyle Evan Sorour. Foto: Facebook/Justice for Evan Sorour
Le Grange is tot drie jaar direkte gevangenisstraf gevonnis en Gericke is tot een jaar gevangenisstraf gevonnis.
“Die beskuldigdes het skuld beken op al die aanklagte teen hulle,” sê Mophiring.