Central SA
Gevra: Kerspakkies vir kwesbare kinders van Klerksdorp─── KAREN VAN DER BERG 05:30 Fri, 22 Nov 2024
Kinders se dankbaarheid en opgewondheid oor die klein dingetjies spoor ’n kinderhuis in Noordwes aan om ’n tikkie Kersvreugde aan kwesbare kinders te bring.
Mina Reyneke, bestuurder van die SAVF Rethabile Klerksdorp Kinderhuis, vertel die personeel is besig om omgeepakkies vir hul 150 kinders in te samel, sodat dit op Oukersdag of Kersdag aan hulle uitgedeel kan word.
Die sakke vir die omgeepakkies kan by die kinderhuis afgehaal word. Daar is ’n lys van benodighede waarmee die pakkies gevul kan word. Elke kind se naam en ouderdom is op die sakke aangebring. Mense kan ook enigiets wat hulle graag wil gee in die pakkies plaas.
‘Ons probeer om die huise so na moontlik aan ’n huishouding te bestuur’
Sy vertel die kinders, van een tot 18, word deur die hof in hulle sorg geplaas. “Hier is agt verskillende huise en elke huis het ’n huismamma. Ons probeer om die huise so na moontlik aan ’n huishouding te bestuur.”
Die projek vir die omgeepakkies – met alles van kosblikke en badhanddoeke tot tekkies en plakkies daarin – is begin sodat elke kind spesifiek ’n pakkie kry.
“Hulle geniet dit baie omdat dit spesiaal vir hulle opgemaak word. Dit is vir hulle ’n bederf.”
Foto: Canva
Reyneke sê hoewel hulle probeer om vir elke kind ’n plek te reël om in die vakansie te kuier, het 55 kinders hierdie Desembervakansie geen plek om heen te gaan nie.
“Ons vra asseblief vir die gemeenskap om ons by die kinderhuis te ondersteun op enige manier wat vir jou moontlik is; nie net met die omgeepakkies nie, maar ook met hulp gedurende die hele jaar.”
Enigiemand wat betrokke wil raak of ’n omgeepakkie wil skenk, kan Reyneke by die kinderhuis bel by 018 464 1888.
OFM Nuus/Karen van den Berg mvh