Central SA
Hindoe-seun uit Indië nou beroepbaar as Dopperdominee─── KAREN VAN DER BERG 06:00 Fri, 22 Nov 2024
“Mukesh Kumar” is nie ’n naam wat ’n mens sou verwag op die lys van toegelate proponente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nie.
Tog is dit presies wat die afgelope week gebeur het toe die Streeksinode Pretoria Dinsdag (19/11) vergader het en Kumar beroepbaar gestel het omdat hy aan al die vereistes voldoen om ’n Dopperpredikant te word.
Die 34-jarige se lewensverhaal en hoe hy hom as predikant in dié kerkverband bekwaam het, is niks minder as merkwaardig nie. “Ek was tien of elf jaar oud toe ek die eerste keer iets van Christenskap en die Woord van God gehoor het.
Mukesh Kumar mag nou beroep word as predikant in die GKSA. Foto verskaf
“My verhaal is een van absolute genade en bewys dat God my werklik geroep het om sy kind te wees, maar ook om sy Woord te verkondig.”
Nadat hy as Hindoe-kind in Noordoos-Indië sy hoërskoolloopbaan op sy ma se aandrang voltooi het, het hy vir ’n B.A.-graad in antieke geskiedenis in die antieke stad Varanasi studeer. Dit is hier waar sy lewe handomkeer verander het.
Deur ’n sameloop van omstandighede en mense wat hom verwys het, het hy twee Gereformeerde predikante ontmoet wat kerkvergaderings daar bygewoon het, prof. Henk Stoker, nou rektor van die Teologiese Skool Potchefstroom, en dr. Douw Breed, destyds predikant van die Gereformeerde Kerk Waterkloofrand in Pretoria.
‘Die eerste hekkie wat hy moes oorkom, was om Engels te leer’
Kumar vertel hy onthou goed hoe hy op ’n winteroggend by die kerkvergadering tee gedrink het, toe Stoker hom vra of hy teologie wil studeer. In daardie stadium was hy reeds ’n bekeerde Christen en het die gedagte gereeld by hom opgekom.
“Ek was presies op die regte plek op die regte tyd. Dit was bestem om so te wees.”
Die eerste hekkie wat hy moes oorkom, was om Engels te leer. Toe hy dit baasgeraak het, kon die eerste deel van sy roeping bewaarheid word. “Ek het op 12 Maart 2015 in Suid-Afrika aangekom, gereed om teologie aan die Noordwes-Universiteit te studeer.”
Sy Suid-Afrikaanse familie: Leon en Rina Venter. Hy sê as hulle hom kon aangeneem het, dan het hulle. Maar hulle het hom nog altyd soos hulle kind behandel. Foto verskaf
Hoewel hy vele struikelblokke moes oorkom, het hy eindelik geslaag en kan hy as predikant beroep word. “My toekomsplanne is nou in die hande van die Here. Ek volg net my roeping.”
Kumar woon op die oomblik in Centurion. Hy het ’n “wonderlike, Goddelike” familie in Suid-Afrika wat hom soos hulle eie kind lief het en ondersteun.
Hy behou intussen kontak met sy familie in Indië en gaan kuier gereeld. Sy ma is reeds oorlede, maar sy pa het sy besluit ondersteun. Van sy Hindoe-vriende kon wel nooit sy besluit verstaan nie. In Indië mag ’n mens volgens wet nie in die openbaar oor Christenskap praat of dit verkondig nie.
Mukesh Kumar (links) en Riaan Wattel is Dinsdag deur Streeksinode Pretoria beroepbaar gestel in die Gereformeerde Kerke. Foto verskaf
Hy studeer ook verder. Sy studie gaan oor die Nuwe Testament en spesifiek oor die Bybelboek Kolossense.
“As ek terugkyk op die afgelope jaar, dan erken ek daar was moeilike tye. Maar ek het gekies en elke dag baklei om te studeer en te keer dat my aandag afgelei word.”
Hy verklaar onomwonde dat dit alles tot eer van die Here is. "Hy het my gered. Hy het bewys dat Hy almagtig is. Ek vier my lewe as iemand wat gered is.”