Central SA
Noordwes-polisie besorg oor ál meer aanrandings─── CASEY-LEE ANTHONY 06:00 Thu, 21 Nov 2024
Sentraal-Suid-Afrikaanse ouers word aangespoor om hul kinders te ontmoedig om deel te neem aan vierings ná die eksamen wat dikwels gekenmerk word deur drankmisbruik en vernielsugtigheid.
Dit kan gevaar inhou vir die matrieks wat handuit ruk, maar ook vir die gemeenskap waarin hulle woon weens dronkenskap en oproerige gedrag.
Die polisie se misdaadontleding wys die meeste slagoffers van aanranding is jong mense, dikwels weens drankmisbruik, sê Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Luidens die jongste misdaadstatistiek het die getal aangemelde gevalle van aanranding met die opset om ernstig te beseer van April tot Junie verlede jaar tot April tot Junie vanjaar in Noordwes van 3 194 tot 3 454, oftewel met 8,1%, toegeneem.
Landswyd was die toename 6%. In die Vrystaat is 9% en in die Noord-Kaap 11,3% meer gevalle aangemeld. Net Limpopo, Gauteng en Mpumalanga het ’n afname in dié misdaad beleef.
By die Ikageng-polisiekantoor in Potchefstroom is die negende meeste gevalle landswyd van ernstige aanranding, naamlik 171, van April tot Junie vanjaar aanhangig gemaak. Die topseweplekke word deur polisiekantore in Gauteng en KwaZulu-Natal beklee.
Jouberton (159 gevalle) in Klerksdorp is tweede in Noordwes en 15de landswyd.
‘Dié optrede is veronderstel om voornemende aanranders af te skrik’
Met dié dat die somervakansie op hande is, wat onder meer gekenmerk word deur drankmisbruik, sal selfs méér gevalle waarskynlik aangemeld word, voeg Mokgwabone by.
Noordwes-polisiebeamptes neem gemiddeld 150 mense per week in hegtenis op aanklagte van aanranding. Hoewel dié optrede veronderstel is om voornemende aanranders af te skrik, neem gevalle toe.
Die polisie vra die publiek, gemeenskapsleiers en ouers vir samewerking in hul stryd teen dié misdade.
Lees ook: Vrystaatse matrieks gewaarsku oor handuit ruk ná eksamen
Intussen word Vrystaatse matrieks ook gewaarsku om nie oorboord te gaan nadat hulle die laaste vraestel voltooi het nie. Die owerheid moedig die leerders aan om eerder betrokke te raak by goeie dade soos om hul skooluniform en -skoene te skenk aan minderbevoorregte leerders.
Ongelukkig maak sommige leerders hulle skuldig aan vandalisme, skeur hulle skooluniforms of ontsier dit deur daarop te skryf, sê Howard Ndaba, Vrystaatse onderwyswoordvoerder. Dis strydig met die departement se waardes soos respek en verantwoordelikheid.
Groot saamtrekke van oproerige matrieks skep allerlei gevare; daarom word skoolverlaters aangespoor om liewer in kleiner groepe in die veiligheid van hul huise die einde van hul skoolloopbaan te vier.
OFM Nuus mvh