On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstromer bly in aanhouding ná reusedaggavonds

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:02 Wed, 20 Nov 2024

Potchefstromer bly in aanhouding ná reusedaggavonds | News Article
Die polisie in Noordwes het ’n hidroponiese daggalaboratorium ontdek met ’n geraamde straatwaarde van R10 miljoen se dagga en daggaplante. Foto verskaf

’n Verdagte wat vir die besit van miljoene rande se dagga en daggaplante in hegtenis geneem is, bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op Woensdag 4 Desember.

Michael Cilliers (29) het Dinsdag (19/11) voor die Potchefstroomse landdroshof verskyn, sê kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder. Hy staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en plofstof, sowel as die onwettige verbouing van en handel in dagga.

Die verdagte is aangekla van die onwettige verbouing van en handel in dagga. Foto verskaf

’n Deursoekingslasbrief is Donderdag deur die dwelmtaakmag, veiligheidsmaatskappy BIU en die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad bekom en uitgevoer om dwelmhandel en die verspreiding van onwettige vuurwapens te bekamp.

Tuisgemaakte ploftoestelle. Foto verskaf

Beamptes het toegeslaan op ’n kleinhoewe in Vyfhoek, Potchefstroom, waar hulle ook afgekom het op twee vuurwapens (waarvan een tuisgemaak), ammunisie en drie tuisgemaakte ploftoestelle, waaronder twee handgranate en een klein pypbom.


Hulle het ook ’n hidroponiese daggalaboratorium ontdek met ’n geraamde straatwaarde van R10 miljoen se dagga en daggaplante.

Die polisie herinner die publiek daaraan om misdaad anoniem aan te meld by Stop Misdaad by 08600 10111 of met die MySAPS-app. Bel die afpersingsblitslyn by 080 091 1011.

Polisiebeamptes het afgekom op twee vuurwapens en ammunisie. Foto verskaf

Intussen het Noordwes-polisie van Maandag (11/11) tot Sondag (17/11) altesaam 1 181 verdagtes as deel van Operasie Shanela aangekeer, sê Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

’n Groep verdagtes, onder wie 73 ongedokumenteerde buitelanders, is aangekeer vir ’n verskeidenheid misdade: 47 vir verkragting, 15 vir moord, sewe vir poging tot moord, 278 vir aanranding met die opset om ernstig te beseer en 36 vir algemene aanranding.

’n Lasbrief is Donderdag deur die dwelmtaakmag uitgevoer. Talle onwettige daggaplantjies is ontdek. Foto verskaf

“Boonop is 14 vir dwelmsmokkelary vasgetrek, 40 vir onwettige drankhandel, 127 vir dwelmbesit, 17 vir inbrake by sake- en woonpersele, 37 vir onwettige mynbou, 29 vir opsetlike saakbeskadiging en 75 vir dronkbestuur,” sê Myburgh.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.