On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Oud-Bloemfonteiner gereed vir kroning van Mev. Suid Afrika 2024

───   HEIDRÈ MALGAS 14:52 Fri, 15 Nov 2024

Oud-Bloemfonteiner gereed vir kroning van Mev. Suid Afrika 2024 | News Article
Kay-Lee Badenhorst (34) is opgewonde om Vrydag (15/11) die verhoog te bestyg in Emperors Palace en vroue te inspireer om hul beste self te wees. Foto Instagram

’n Oud-Bloemfontein en finalis in Mev. Suid-Afrika 2024 wil ’n verskil in mense se lewe maak en persoonlike groei aanmoedig.

Kay-Lee Badenhorst (34) is opgewonde om Vrydag (15/11) die verhoog te bestyg in Emperors Palace en vroue te inspireer om hul beste self te wees.

“Ek het besluit om in te skryf omdat ek ses jaar lank voltyds ma was vir my twee pragtige seuntjies,” vertel sy. “Dit is ’n absolute voorreg, maar ek het myself ’n bietjie in die proses verloor.

“Ek het gedink dat dit nou die tyd in my lewe is om iets vir myself te doen, en dit was die beste besluit van my lewe. Ek het so baie gegroei en het myself weer herontdek.”

Kay-Lee Badenhorst (34). Foto Instagram

Sy sê haar grootste doelwit is om vroue te inspireer om hul beste self te wees. “Ek sê altyd dat my reis nooit gaan eindig nie, en ek gaan nooit ophou leer nie. Maar ek dink as ’n mens die regte platform het, dan het jy net soveel meer kapasiteit om ’n groter verskil te maak.

“Ek sal beslis die platform gebruik om vroue te inspireer en kinders se lewe te verander. Ek glo ek het die wilskrag om dit self te doen, maar as jy hierdie wonderlike platform het, is dit net soveel beter en groter.


“ ’n Mev. Suid-Afrika moet empatie hê met ander en met haarself. Ek sê altyd dat dit nie soseer saak maak wat jy vir iemand doen nie, maar hoe jy hulle laat voel. Ek glo ook dat ’n mens definitief ’n doel moet hê. Ek voel dat ek my doel ontdek het om vroue en kinders se lewe te verander.”

Sy sê dit gaan oor soveel meer as net die glans en glorie of ’n lint en kroon. “Ek dink ’n Mev. Suid-Afrika moet werklik in haar hart die begeerte hê om te inspireer en ’n verskil te maak.

“Hierdie reis met Mev. Suid-Afrika was nie ’n maklike proses nie, maar dit was definitief die moeite werd. Persoonlik moes ek leer om moederskap te balanseer met ander aspekte van my lewe omdat ek vir soveel jare myself aan my kinders en my gesin toegewy het. Dit was aanvanklik moeilik vir my om daardie balans te vind.”

Kay-Lee Badenhorst was vir ses jaar lank betrokke by OFM se advertensieverkope. Foto: Instagram

Badenhorst ondersteun die liefdadigheidsorganisasie Kansa. Sy het ’n suksesvolle geldinsamelingsprojek vir hulle gereël, een van die vereistes vir die finaliste. “Ek gaan ’n pad saam met hulle stap en definitief meer betrokke raak.”

Hoewel Badenhorst nou in Gauteng woon, bly sy ’n Sentraal-Suid-Afrikaner in murg en been. In Bloemfontein was sy ses jaar lank betrokke by OFM se advertensieverkope.

Die kroning van Mev. Suid-Afrika 2024 vind Vrydagaand (15/11) om 20:00 plaas in Emperors Palace, Kempton Park.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.