On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Westdene-uitsmyters eers volgende jaar weer hof toe

───   HEIDRÈ MALGAS 12:58 Wed, 13 Nov 2024

Westdene-uitsmyters eers volgende jaar weer hof toe | News Article
Die man se liggaam is in die parkeerterrein oorkant die kuierplekke ontdek. Foto verskaf

Die drie uitsmyters van ’n Bloemfonteinse kuierplek wat na bewering ’n klant om die lewe gebring het, se saak is uitgestel tot 3 Februarie.

Die saak is Woensdag (13/11) uitgestel vir verdere ondersoek. Mpho Kedumetse Mphepuka (18), Simphiwe (Gorilla) Dlabu (27) en Justin Ayanda Horn (36) is steeds uit op borgtog.

Die plaaslike landdroshof het hulle op 5 Augustus op R2 000 borgtog elk vrygelaat omdat al drie verdagtes werk, sterk familiebande het en geen vorige veroordelings teen hulle het nie.

Die liggaam van die oorledene (43) is Maandag 22 Julie gevind op die parkeerterrein oorkant The Other Venue (TOV) in Tweedelaan, Westdene, ’n sentrale voorstad met talryke kroeë, restaurante en ander kuierplekke.

The Other Venue. Foto: Gypseenia Lion

Die onderneming het destyds in ’n verklaring op Maandag 22 Julie gesê hul het inligting ontvang oor ’n aanval buite hul perseel waarin iemand sy lewe verloor het. “Ons het onmiddellik die Bloemfonteinse polisie genader, onderhoude gevoer en kring-TV-beeldmateriaal en ander relevante inligting verskaf, wat tot ’n inhegtenisneming gelei het.”

Die kuierplek het gesê hy is “diep geskok deur die sinneloosheid van hierdie misdaad” en het die verklaring uitgereik om sy personeel te verseker dat hy “ten volle met wetstoepassing saamwerk om geregtigheid vir die slagoffer te verseker”.

‘Hy het probeer om die aanranding van die oorledene te keer’

Mphepuka is in Maart vanjaar as sekuriteitswag by TOV aangestel. Sy regsverteenwoordiger beweer hy het probeer om die aanranding van die oorledene te keer.

Dlabu is sedert 2020 ’n sekuriteitswag by TOV. Die hof het gehoor dat hy nie seker is van die status van sy werk nie, omdat hy nog nie met die werkgewer gepraat het nie. Hy het hom aan die polisie oorgegee op advies van ’n prokureur.

Horn werk deeltyds as sekuriteitswag by TOV.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.