On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse skoolkind gegroet ná breinvliesontsteking

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:51 Mon, 11 Nov 2024

Bloemfonteinse skoolkind gegroet ná breinvliesontsteking  | News Article
Branden Taylor. Foto verskaf

Die gedenkdiens vir ’n Bloemfonteinse seun wat aan breinvliesontsteking gesterf het, vind Donderdag (14/11) plaas.

Branden Taylor (13) het Donderdag (7/11) in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein beswyk. “Hy het Saterdag siek begin voel, en sy ouers het hom hospitaal toe geneem.

Daar is aan hulle gesê hy het brongitis en hy is huis toe gestuur,” sê Senda Edeling, sy tannie.

Die situasie het egter Sondagoggend ’n wending geneem toe Branden omstreeks 03:00 ’n epileptiese toeval gekry het. Volgens Edeling het sy neus begin bloei en sy koors gevaarlik hoog gestyg.

‘Branden het die afgelope sewe jaar nie ’n episode gehad nie’

“Branden is vinnig teruggeneem hospitaal toe, maar ondanks mediese pogings is hy ’n paar dae later oorlede.

“Sy dood is ’n groot skok vir ons almal. Ons het nooit verwag dat dit sou gebeur nie; ons was oortuig hy sou huis toe gekom het,” sê Edeling.

Die epileptiese toeval was “besonder onverwags”, aangesien Branden die afgelope sewe jaar nie ’n episode gehad het nie.


Branden word beskryf as ’n hulpvaardige seun. “Hy was altyd daar om te help, of dit nou in die tuin was of om die kar te was. Hy was werklik ’n engel.”

Die Lettie Fouché-skool, waar Branden ’n leerder was, het ook sy meegevoel met die familie betuig “gedurende hierdie ongelooflik moeilike tyd”. Die skool vra in ’n Facebook-inskrywing ook dat mense sy geliefdes vertroosting sal toebid.

Branden se gedenkdiens word Donderdag om 11:30 by die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein gehou.

Gevaartekens vir dié siekte

Die simptome van breinvliesontsteking stem dikwels ooreen met dié van kwaai verkoue of griep. Die gevaartekens vir dié siekte is hoë temperatuur, koors en ’n kind wat sleg voel en buitengewoon moeg is.

Ander simptome sluit in beenpyn, bewerasie, ’n stywe nek, vinnige asemhaling, ’n bleek vel met blou kolle, slaperigheid, deurmekaarheid, naarheid en aanhoudende braking.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.