On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende Schmidtsdrift-veediewe kry borgtog

───   ZENANDE MPAME 12:57 Tue, 15 Oct 2024

Vermeende Schmidtsdrift-veediewe kry borgtog | News Article
Foto ter illustrasie: OFM Nuus

Twee vermeende veediewe wat 15 bokke van ’n plaas naby Schmidtsdrift gesteel het, is borgtog van R2 000 elk toegestaan.

Die twee het Maandag (15/10) in die Kimberley-landdroshof verskyn vir ’n borgtogaansoek.

Hul saak is tot Donderdag 21 November uitgestel. Hulle word aangekla van veediefstal en vermoedelik gesteelde vee.

Die twee mans (42 en 45) is Saterdag 6 Oktober in hegtenis geneem nadat hul Toyota Voxy-minibus met ’n pap band langs die pad geparkeer was en deur die polisie opgemerk is.

“By nadere ondersoek het die polisie twee verdagtes aangetref met gesteelde bokke van ongeveer R30 000,” sê Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. “Verdere ondersoeke het daarop gedui dat die bokke vermoedelik van ’n nabygeleë plaas is waar die verdagtes die skaapwagter na bewering vasgebind en die bokke gesteel het.”

Eienaars moet hul vee behoorlik merk, verkieslik deur hulle te brandmerk. Foto verskaf

Die twee buitelanders woon in Kimberley. Beamptes het beslag gelê op die Toyota Voxy aangesien dit na bewering gebruik is om die misdaad te pleeg. Die boer kon sy vee uitken, sê Kock.

Intussen, in Noordwes, is drie vermeende veediewe elk borgtog van R1 000 toegestaan in die Sannieshof-landdroshof waar hulle Donderdag (10/10) verskyn het. Die saak is tot Donderdag 31 Oktober uitgestel sodat hulle regsverteenwoordiging kan kry.

Aaron Kolobe (58), Sedupe Mantlhonyane (50) en Tshwarelo Kobokwe (58) is op Vrydag 23 Augustus in hegtenis geneem vir beweerde veediefstal en die besit van vermoedelik gesteelde vee.

Die verdagtes se voertuig het ’n sleepwa getrek met agt bonsmaras. Foto verskaf

“Die ondersoek is afgehandel. DNS-verslae is ingedien en al die beskuldigdes is uit op borgtog,” het Noordwes se kommunikasiebeampte, Sive Gunya, gesê.

“Die verdagtes se voertuig het ’n sleepwa getrek met agt Bonsmara-beeste en is by Witpan naby Sannieshof gestop vir ’n nakomingsinspeksie," het Noordwes-polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, gesê. “Daar is ontdek dat die bestuurder en passasier nie bewyse van eienaarskap of vervoer gehad het nie.”

“Ná die onderhoud is ontdek die beeste is by ’n plaas in Migdol gesteel. Die drietal is in hegtenis geneem en die beeste is na ’n Lichtenburg-skut geneem vir identifikasie deur die wettige eienaar.”

Die span het beslag gelê op ’n Ford Ranger en die sleepwa wat vermoedelik gebruik is om die misdaad te pleeg, het Mokgwabone gesê.


Die polisie vra dat boere die volgende veiligheidswenke implementeer om hul vee te beskerm:

• Vee-eienaars moet vee ten minste een keer per week tel.

• Eienaars moet hul vee behoorlik merk volgens die Wet op Diere-identifikasie (Wet No 6 van 2002), verkieslik deur hulle te brandmerk.

• Boere word aangeraai om in tegnologie soos kringtelevisiekameras te belê om veediefstal hok te slaan.

• Volledige besonderhede van arbeiders kan die polisie help met veediefstalondersoeke.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.