On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Oudleerder van Grey Kollege verongeluk op pad na reünie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:11 Thu, 10 Oct 2024

Oudleerder van Grey Kollege verongeluk op pad na reünie | News Article
Clayton Lauwrens. Foto: Facebook

Begrafnisreëlings moet nog getref word vir ’n oudleerder van ’n Bloemfonteinse seunskool wat verongeluk het.

Clayton Lauwrens (33) was Dinsdag (8/10) saam met sy hond, Diego, van Pretoria na Bloemfontein onderweg om sy 15-jaarreünie by Grey Kollege by te woon toe hulle verongeluk het.

Die ongeluk het vroegoggend op die R710 tussen Welkom en Bultfontein plaasgevind, sê kapt. Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder.

Dié naweek kom nege jaargroepe Grey-oudleerders in die Vrystaatse hoofstad bymekaar om hul reünies te vier. Die geleentheid begin Donderdag (10/10) met ’n gholfdag, gevolg deur verskeie aktiwiteite deur die loop van die naweek.

Lauwrens was die laaste jare ’n finansiële adviseur in Pretoria.

“Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag,” sê Earle. “Voorlopige bevindings wys geen ander partye was by die ongeluk betrokke nie.

“Vermoedelik het Lauwrens se voertuig gerol nadat hy beheer daaroor verloor het.”

Clayton Lauwrens. Foto: Facebook

Vriende en familie spreek intussen hul skok en hartseer op Facebook uit, onder wie Monique Snyders: “Vanaand slaap baie met ’n natgehuilde gesig. My hart is stukkend. Jy was ’n ongelooflike vriend.

“Dis net jy wat ’n ‘moon bag’ en gróót breë sonbril kon laat cool lyk.”

Juandré Klopper, ’n vriend van die afgelope tien jaar, sê hy sal hul goeie tye saam nooit vergeet nie. “Ek het nie woorde nie. Dankie vir goeie tye, die slegte tye, die trane, die smiles, ons stupid sêgoed, ons liedjies. Tot ons mekaar weer sien.”

Clayton en sy hond, Diego. Foto Facebook

Die Grey-reüniegroep op Facebook het ook hul medelye met Lauwrens se famille en vriende betuig.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh/cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.