On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp: Verpleër ongedeerd ná beweerde ontvoering deur bendelede

───   HEIDRÈ MALGAS 11:15 Fri, 27 Sep 2024

Klerksdorp: Verpleër ongedeerd ná beweerde ontvoering deur bendelede  | News Article
Jouberton se gemeenskapsgesondheidsentrum. Foto: Facebook

“Die verpleër is ongedeerd deur die ontvoerders vrygelaat, maar die voorval het personeel by die gesondheidsentrum getraumatiseer.”

’n Verpleër van die gemeenskapsgesondheidsentrum in Jouberton, Klerksdorp, is glo op Erfenisdag deur beweerde bendelede ontvoer.

“Die verpleër is ongedeerd deur die ontvoerders vrygelaat, maar die voorval het personeel by die gesondheidsentrum getraumatiseer,” sê Sello Lehari, LUR vir gesondheid in Noordwes.

Hy het gevra vir kalmte en die voortsetting van gesondheidsorgdienste by dié sentrum in die Dr Kenneth Kaunda-distrik.

Die gemeenskapsgesondheidsentrum in Jouberton het in 2023 sy deure geopen. Foto: Tondolo

Lehari is vergesel deur Mosela Kaudi, waarnemende adjunk-direkteur-generaal, en ander bestuurders van die provinsiale, distrik- en subdistrikte. Hulle het ook met personeel van die sentrum vergader. 

Die ontvoerders het geld van die man geëis voordat hy ongedeerd vrygelaat is. Lehari sê Jouberton Township gaan gebuk onder bendegeweld en die polisie het die gebied oor die afgelope jare as 'n brandpunt gemerk.

“Verpleegkundiges en dokters beweer dat bendelede dikwels die sentrum binnekom wat lewens in gevaar stel.”

Die personeel het ná die voorval berading ontvang. Foto: Tondolo 

Lehari het met die beweerde slagoffer, personeel, vakbondleiers en bestuur vergader oor die verbetering van veiligheid by die sentrum.

“Ek het bestuurders opdrag gegee om bykomende veiligheidswagte te ontplooi en hul teenwoordigheid te versterk sodra ek die sentrum verlaat,” sê Lehari. 

“Ons moet ook nou saamwerk met die polisie, aangesien dit ’n groter gemeenskapskwessie is.” ’n Psigo-sosiale ondersteuningspan is na die sentrum gestuur om berading aan die personeel te bied.

Hy het die personeel verseker die departement sal alles moontlik doen om uitnemende veiligheid by die sentrum te verseker, terwyl hy die belangrikheid beklemtoon om te fokus op die lewering van gehalte- primêre gesondheidsorgdienste aan die gemeenskap.


Lehari het belowe om terug te keer vir ’n onverwagse toesigbesoek met die bestuur om te verseker die ooreengekome veiligheidsmaatreëls word konsekwent toegepas.

“As veiligheid steeds ’n probleem en onvoldoende bly sal ons die huidige maatskappy se kontrak moet beëindig en ’n ander een aanstel wat ons werknemers se veiligheid ernstig opneem,” sê hy. 

Inwoners word aangemoedig om voort te gaan om die gesondheidsdienste by die sentrum te gebruik, omdat dit veilig en betroubaar is.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.