Central SA
Bloemfonteinse ‘engele’ keer omgewingsramp, een kolonie katte op ’n keer─── ELSABÉ DE JAGER 10:34 Mon, 09 Sep 2024
“Binnekort gaan hier veel meer as 34 katte rondhol.”
“Dit is vir my belangrik om nie emosioneel betrokke te raak by hierdie wilde katjies nie. Ek weet ek moet doen wat die beste is vir hulle.”
Dis Marieke Brönner, bestuurder van Feral Cat Care Bloemfontein, se nugter benadering tot haar werk om ondernemings, instellings en individue by te staan om kolonies wilde katte onder beheer te bring deur hulle te vang, te laat steriliseer en weer in hul omgewing vry te laat.
OFM Nuus het haar vergesel na só ’n poging op die Paradys-proefplaas van die Universiteit van die Vrystaat, suid van Bloemfontein.
Wanneer Feral Cat Care Bloemfontein op babakatjies afkom tydens ’n sterilisasiepoging, neem hulle die katjies saam en versorg hulle totdat hulle aangeneem kan word. Foto: Elsabé de Jager
Daar gekom, tel haar geoefende oog die klomp katte wat geruisloos rondsluip op die plaas. Tussendeur pak sy en haar ma, Muriel, wat haar vandag help, die 14 vanghokke uit haar bakkie op die grond.
“Die hokkies staan bekend as ‘humane traps’,” vertel Brönner. “Wanneer die kat by die hokkie ingaan, trap hy op ’n plaatjie wat die deurtjie laat toeklap. Die kat kry glad nie seer nie.”
Terwyl Brönner bakkies vol tuna, hoender en sardiens as lokaas agterin die staalhokke plaas en hulle dan oral op die werf gaan neersit, stap Jansie Kruger, wat reeds ses jaar hier woon, nader. Sy het met die jare baie lief geword vir dié katte, vertel sy.
Voor die hokkies uitgepak word, plaas Marieke Brönner en haar ma, Muriel, lokaas soos hoender en tuna daarin. Foto: Morgan Piek
Afgesien van die wilde katte vir wie sy daagliks kos gee, het sy ook haar eie twee. “Troy en Panini kom van ’n diereskuiling hier in Bloemfontein af, maar hulle lewe nou soos konings in ons huis.”
Nadat al die hokkies op verskillende plekke staangemaak is, wagtend op die eerste kat wat swig voor die lekkernye wat binne-in wink, kry ons uiteindelik kans om verder te gesels. Teen dié tyd het ek reeds 34 wilde katte getel.
“Dié tyd van die jaar kom katte op hitte. Binnekort gaan hier veel meer as 34 katte rondhol,” meen Brönner. ’n Wyfiekat kan reeds op die jong ouderdom van vier maande dragtig raak.
Teruggeneem na kolonie
Om die matelose vermeerdering van wilde katte onder beheer te bring, pas Brönner ’n stelsel toe wat in Engels bekendstaan as TNR vir “trap, neuter, return”. Sy verduidelik wilde katte word in die veld gebore en het gewoonlik min of geen kontak met mense nie.
Hulle word op ’n menslike wyse gevang om te keer dat hulle onverhinderd aanteel. Hulle word dan deur ’n veearts gesteriliseer, waarna hulle teruggeneem word na hul kolonie of voedingstasie. Daar kan hulle dan ongehinderd lewe sonder dat hulle verder bydra tot oorbevolking.
Die werksaamhede van Brönner se organisasie sonder winsoogmerk, Feral Cat Care Bloemfontein, verg enorme uitgawes. Afgesien van die sterilisasie wat wissel van veearts tot veearts, moet hulle ook sorg vir kos, vervoer en beskerming.
Van die katte op Paradys is reeds gesteriliseer. Foto: Morgan Piek
In die meeste gevalle betaal die mense of instelling wat sterilisasie van die katte op hulle eiendomme versoek self daarvoor. “Veeartse kom ons ook dikwels tegemoet deur dit teen laer tariewe te doen,” sê Brönner.
“Ons pleit egter ook by die gemeenskap om ons by te staan met bydraes soos tweedehandse boumateriaal, ou matte, hout, draad, teëls, stene en sinkplate wat gebruik kan word vir die aanbou van meer huisies.”
Feral Cat Care Bloemfontein wil van die boumateriaal gebruik om ’n katherberg te bou waar eienaars vakansietye hul kat vir versorging kan kom los, teen betaling, wat kan help om Brönner-hulle se onkoste te bestry, soos melk vir babakatjies, kos en medikasie.
My oë voel mistig toe ek help om die 14 hokkies, elkeen met ’n kombersie toegegooi om die kat binne-in rustig te hou, terug te dra na die bakkie. Sommige van die katte is doodstil, ander miaau ten hemele.
Die volgende middag word hulle teruggebring en losgelaat, hier waar hulle tuis voel. ’n Puntjie sal van elkeen se oor afgeknip word sodat hulle nie straks tydens ’n toekomstige poging weer vir sterilisasie gevang en veearts toe gebring word nie.
Jansie sê met die groetslag sy en haar man trek binnekort dorp toe. Haar stem breek toe sy vertel dat sy die enetjie wat verlede jaar kanker gehad het, saam met haar neem. Sy noem haar Martinette. Marieke en Muriel verseker haar hulle sal ’n oog oor die res hou.
Nadat ’n kat in elke hok geklim het, word hulle toegegooi om hulle rustig te hou, soos hier tydens ’n vorige poging by ’n woonstelblok in Bloemfontein-Sentraal. Foto: Morné van Rooyen
Toe ek wegdraai uit die stofpad, kyk ek oor my skouer. Soms beweeg engele sonder enige vertoon tussen ons rond. Een van hulle staan vir oulaas en waai met ’n bak kos in haar hand vir die katte wat agterbly.
Brönner en haar ma ry stadig oor die hobbels van die grondpad, versigtig om nie paniek te saai onder die kosbare vrag wat so afhanklik is van ’n helpende hand nie.
OFM Nuus/Elsabé de Jager mc/cg